Inwoners van die noorde van Bloemfontein moes Sondag klaarkom sonder water én krag weens geskeduleerde onderhoudwerk wat Centlec gedoen het.
Vir talle inwoners soos dié in Groenvlei, duur die watertekort al tot solank as twee weke en inwoners moet planne maak om water te kry.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro sê die Maselspoort-suiweringsaanleg werk nou weer op volsterkte en die voorsiening van grootwaterverskaffing begin herstel.
Volgens hom is die Hamilton-reservoir vanoggend 53% vol, terwyl die Arboretum-reservoir nou geleidelik voller word.
“Ons verwag dat die watervlakke in die reservoirs in Heuwelsig, Pentagonpark en Spitskop deur die loop van die dag sal normaliseer.”
Volgens Khedama is daar watertenks by die Heuwelsig-sparkompleks sowel as in Pentagonpark tussen die CRC-kerk en Northridge Mall, hoewel inwoners sê daar was nie die naweek ’n watertenk by die Spar in Heuwelsig nie.





