Dr. Vicky Heunis en Neels Nieuwenhuizen by die uitstalling wat nou in die Emily Hobhouse-saal van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gesien kan word.Foto: Lientjie Mentz


Kort voor die 125ste herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog wat in Oktober herdenk word, het die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke sy nuwe permanente uitstalling, Die vrou gedurende die oorlog, bekend gestel.

Neels Nieuwenhuizen, ’n kunstenaar wat reeds 42 jaar by die museum werk, het die projek behartig.

Die uitstalling wat in die Emily Hobhouse-saal van die museum te sien is, herinner aan verskeie heldhaftige vroue wat tydens die oorlog ’n groot rol gespeel het.

In die uitstalkaste wat deur Koos Bekker aan die museum geskenk is, is verskeie inligtingsborde en voorwerpe wat verband hou met vroue se lot tydens die uitvoering van die Britse ryk se verskroeide-aarde-beleid, die vroue se lewe in die veld, asook die konsentrasie­kampe oor die twee republieke heen.

Dr. Vicky Heunis, versameling­bestuurder van die Oorlogmuseum, het tydens die opening van die uitstalling aan vroue hulde gebring.

Sy sê nadat die Britte die hoofstede van die Boererepublieke Bloemfontein en Pretoria in onderskeidelik Maart en Junie 1900 ingeval het, was dit nie die einde van die oorlog soos tradisioneel tydens oorloë aanvaar is nie.

Die kommando’s het met ’n guerrilla-taktiek begin om die Britse vorraadkolonne aan te val en die kommunikasielyne te teiken.

In antwoord hierop, het lord Frederick Roberts op 16 Junie 1900 ’n proklamasie uitgereik dat die Britse magte gaan wraak neem oor die sabotasie.

Brittanje het hierna die verskroeide-aarde-beleid begin om te keer dat vroue die kommando’s van voedsel en inligting te voorsien.

Sy sê sowat 30 000 plaashuise is in dié tydperk afgebrand en 40 dorpe is gedeeltelik of heeltemal vernietig.

“Vroue is 20 minute gegee om hul huis op te ruim voordat die opstal afgebrand is,” vertel sy.

Sy sê volgens navorsing het genl. Louis Botha tydens die onderhandelinge van die Vrede van Vereeniging in 1902 gereken dat daar toe nog sowat 2 540 gesinne in die veld gewoon het en dus die konsentrasiekampe vrygespring het.

Die Oorlogsmuseum herdenk op 12 Oktober 125 jaar sedert die uitbreek van die ABO.

Andriëtte Norman tree tydens dié geleentheid op.

Die feestelikhede begin om 15:00 by die museum.

Daar sal ook kooroptredes, ’n nagbesoek aan die Oorlogs­museum, kosstalletjies en talle meer vir besoekers wees.

Die kaartjies kos R100 en kinders 12 jaar en jonger betaal R50, terwyl kinders vier jaar en jonger gratis toegang tot die fees kry.

Bespreek plek vir bywoning deur 051-447-3447 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article