In ‘n toneel vol nostalgie en kameraadskap het voormalige spoorweg-kollegas van oor Suid-Afrika heen op 29 November by Modenso-park in Bayswater bymekaargekom.
Van so ver soos Durban, Pretoria, Langebaan en Mosselbaai in die Kaap het manne gereis om die besonderse reünie by te woon.
Oom Buks Pelser (96), was die oudste onder die groep en is reeds 38 jaar ‘n pensioentrekker.


Manna Pieters sê die veterane van die spoor het stories en ondervindings gedeel; en vriendskappe wat dekades oud is, is hernu.
“Die reünie het ‘n volledige deursnee van die ou spoorwegwerkmag bymekaargebring, van

treindrywers en stasie-voormanne, tot sinjaal-tegnici en trajek-bestuurders.
“Hierdie individue, wat elke vlak verteenwoordig wat deesdae Transnet heet, is gevier as die spesiale mans en vroue wat nie net die land se spoornetwerk gebou het nie, maar ook gehelp het om die nasie te bou.”
Pieters sê die groep word vereer en erken vir die groot verantwoordelikheid wat hulle vir ontelbare lewens gedra het en die noodsaaklike goedere wat Suid-Afrika aan die beweeg gehou het.
“Hulle groot opofferings en toewyding het verseker dat die wiele van die ekonomie nooit ophou draai het nie.”
‘n Oomblik van stilte is gehou vir die talle kollegas wat nie die geleentheid kon bywoon nie, nadat hulle “op die laaste trein van die lewe geklim het”.
Die geleentheid was ‘n gepaste huldeblyk aan hierdie groot manne, wie se nalatenskap steeds voortrol.






You must be logged in to post a comment.