Die jaarlikse vertoning I am Young is vanjaar selfs beter met die Afrikaanse sangeres Sonja Heroldt wat saam met die jongmense optree.
Die produksie, waaraan die Bloemfonteinse a cappella-groep Bliss, en die skoolkoor van die Laerskool Joe Solomon ook deelneem, vind op Saterdag 13 Julie plaas.
Die ouderdomme van die deelnemers strek van so jonk as agt tot 35 jaar. Boonop is daar ook heelwat jong mans in die groep.
Die groep studente wat die afgelope vakansie die werksessie van I am Youngbygewoon het, het Saterdag 6 Julie hul passies saam met die dansers van die Louise Fourie-dansateljee geoefen.
Willie Venter, regisseur van I am Young, het die platform geskep om aan jongmense die geleentheid te gee om in een vertoning hul sang-, dans- en toneelspel te vertoon.
Venter sê die vermaaklikheidsbedryf vereis deesdae ’n diverse kunstenaar wat alles moet kan doen. Hoe veelsydiger ’n kunstenaar is, hoe groter is sy of haar kans om in Suid-Afrika in die bedryf te kan werk.
I am Young gee aan opkomende kunstenaars die geleentheid om op die verhoog op te tree sonder die mededingende kant van die bedryf.
Kaartjies vir die vertoning om 17:00 in die Doxa Deo-ouditorium in Fichardtpark kos R120 en is op quicket.co.za beskikbaar.





