Carli Boshoff (11) van die Laer Meisieskool Oranje en Beocious Lottering (6) van die Laerskool Willem Postma speel lekker met die robotika-speelgoed.


’n Wonderwêreld van robotika en die Olimpiese Spele het oopgegaan vir kinders wat die afgelope vakansie ’n Bybel­skool by die Sewendedag-Adventistekerk in die stad bygewoon het.

Sowat 27 kinders van laerskole oor die stad heen het van 24 tot 28 Junie met dié vakansie­program pret gehad, aktiwiteite gedoen en meer oor Bybelstories geleer.

Tebello Lichaba van Mirae Robotics het Vrydag ’n sessie oor robotika aangebied waartydens die kinders in groepies ’n robot kon bou.

Die kinders, wat ’n groep van tien van Engo se Ons Kinderhuis-jeugsorgsentrum ingesluit het, het die sessie geniet.

Veral die ouer seuns was gefassineer deur die groter robotte wat Lichaba demonstreer het, onder meer een wat allerlei oefeninge soos opstote kon doen.

Bregda van Rensburg, organiseerder van die Bybelskool, sê die temas wat deur die loop van die program verken is, het ingesluit hoe jy jou geloof kan oefen – ’n onderwerp wat aansluit by die Olimpiese Spele wat binnekort in Parys, Frankryk, begin.

“Ons het geleer van Paulus wat die wedloop gehardloop het; ons het elke dag ’n lekker peuselhappie gemaak wat by die dag se Bybelstorie gepas het; en ons het ons eie Olimpiese speletjies gespeel.

“Die hoogtepunt was die besoek van Mirae Robotics. Hulle het verskillende pakette gehad waarmee die kinders hul eie karretjies, windmeule en nog baie ander model-letjies laat bou.

“Die modelletjies is dan deur middel van ’n toepassing op ’n selfoon, beweeg.”

Van Rensburg sê dit was so ’n seëning om die kinders dinge te sien uitpluis – en dan daardie stralende gesiggie wanneer hulle dit regkry en hulle die modelletjie laat beweeg.

Elke kind het Saterdag ’n medalje vir hul bywoning aan die Bybelskool ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article