Eienaars van kunstemarkstalletjies op die Vrystaat Kunstefees kry vanjaar twee geleenthede om in te haal op hul verlore inkomste van die afgelope Covid-19-jare.
’n Mini-mark word van 12 tot 16 Julie gehou, en van 2 tot 8 Oktober is dit die ware Jakob. Die Vrystaat Kunstefees vind dan plaas, en daarmee saam die kunstemark soos in die jare voor die pandemie.
Die wintermark sal klein en intiem wees, en net unieke Suid-Afrikaans vervaardigde produkte word verkoop.
Al die stalletjies sal in en om die Callie Human-saal en eksamenlokale op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat opgerig word.
Volgens alle verwagtinge sal Covid-19-beperkings teen Oktober iets van die verlede wees, en sal man en muis kan opdaag vir die Literatuurfees, Vrynge en die hooffees op die Vrystaat Kunstefees.
Dit word vanjaar van die koue maande na die lente geskuif, wat dit selfs meer aantreklik sal maak.
Die fees word ook soos vroeër op die Kovsiekampus met sy uitmuntende teaters en toeganklike infrastruktuur gehou.
Belangstellendes kan nou aansoek doen om stalletjies op albei markte. Besoekvrystaatkunstefees.co.za en klik op “the arts market”.– Elretha Britz




