’n Reuse-droom, om meer meisies te help, word nou ’n werklikheid vir die Therapéa Kids-jeugsentrum in Bloemfontein.
Mariska Robberts, bemarkingsbestuurder, sê hulle is in die wolke oor ’n tweede huis wat hulle by die jeugsentrum kan voeg wat sal meebring dat nagenoeg 16 meer dogters gehelp kan word.
Dié jeugsentrum bestaan reeds tien jaar lank en is gestig om ’n tuiste te wees vir meisies wat deur die hof uit hul huise verwyder moes word en in ’n plek van veiligheid geplaas moet word. Robberts sê die kinders wat by die sentrum beland, is almal deur ’n traumatiese ervaring – wat van kind tot kind verskil. Die sentrum huisves 20 kinders tussen die ouderdom van ses en 21 jaar.
“Die tweede huis wat ons ontvang het, gaan ons nou in staat stel om die laer-en hoërskoolmeisies te skei en meer van hulle te help.”
Sy sê hulle is reeds ’n geruime tyd al by volle kapasiteit en kon eenvoudig nie meer kinders help nie.
“Die Covid-19-pandemie het veroorsaak dat al hoe meer kinders en gesinne in haglike omstandighede moes bly. Die nood is ontsettend groot in Bloemfontein.
“Die persoon by wie ons die huis gekoop het, was egter besig om vernuwings en aanbouings te doen en het dit nie voltooi nie. Voordat ons kan intrek, sal ons die huis moet klaarmaak en gereed moet kry.”
Die behoefte is veral groot om meisies wat skool voltooi het, daar te hou totdat hulle onafhanklik kan begin werk en lewe.
“Die probleem wat ons nou ervaar, is dat die Kinderwet nie voorsiening maak vir kinders bo die ouderdom van 18 jaar nie. Dit beteken só ’n inwoner moet die jeugsentrum verlaat. Dit is hartseer, want sy het steeds drome en ideale vir die toekoms, maar het dan skielik nie ’n ondersteuningsnetwerk nie.
“Dit is regtig ons hart om die meisies te help om op hul eie voete te staan.”
Robberts sê die nuwe huis help om vir die skoolverlaters ’n heenkome te bied.
“Ons glo dat die jare se liefde, ondersteuning en nodige terapie wat ons in die meisies se lewe belê, volbring moet word. Ons wil hê dat elke meisie die kans moet kry om die beste weergawe van haarself te word en die volwasse lewe vanuit ’n ondersteunende omgewing aan te durf.”
Sy sê hulle is baie opgewonde, maar die uitgawes gaan ook meer wees.
“Ons sien nog altyd die Here se genade oor die sentrum. En ons is dankbaar daarvoor. Ons wil mense egter vra om betrokke te raak op enige manier wat hulle kan.”
- Rig navrae aan Robberts by 083-442-4430.





