Kragdrade wat beskadig is in Turflaagte. Foto: Teboho Setena


Terwyl die donderstorm gisteraand en vanmiddag grootskaalse skade aan motors, bome, huise en strukture aangerig het, is die moontlikheid van nóg donderstorms nie uitgesluit nie.

In Turflaagte is talle huise ernstig beskadig met dakke wat afgewaai het en mure wat ineengestort het.

Die muur om ’n swembad by die Loch Logan-woonstel in Nelson Mandelarylaan het omgeval.

Motoriste word gemaan dat daar in talle strate steeds takke en bome lê. Mangaung-metro se brandweerafdeling het begin met die verwydering van bome en mense word gewaarsku om nie deur die duikweg in Fortstraat te ry nie.

Die dak van ’n gebou in Hangerstraat het ook afgewaai en het in die straat beland, maar is reeds verwyder.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro vra mense waar water in hul erwe opdam, om slote te grawe sodat die water uit hul erwe kan vloei om skade te verhoed.

In ’n noodgeval, skakel die brandweer-afdeling by 051-406-6666 of 051-409-9600 of skakel vir ’n ambulans by 10177.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het stormwaarskuwings uitgestuur van 14:00 tot 23:00 vandag.

Talle ou bome in Westdene is ontwortel of is afgebreek. Hierdie dooie boom het omgeval in Pres. Reitzlaan.Foto: Lientjie Mentz

Lele Mamathu, woordvoerder vir Centlec, sê in ’n nuusverklaring 13 spanne werk nou aan 461 probleme wat aangemeld is en nog 189 nuwe probleme wat nou aangemeld is.

Skade aan kraglyne is aangerig in Bainsvlei, Bayswater, Bloemside, Freedom Squre, Gardeniapark, Heidedal, Noordhoek, Rocklands en Westdene.

“Ons verwag ’n hoë volume oproepe na ons oproepsentrum en na ons sosiale mediaplatvorms,” het Mamathu gesê.

Klagtes oor kragonderbrekings kan gerig word by die volgende nommers: 086-007-6937 of 051-409-2345. Stuur ’n WhatsApp na 068-178-0700 en sluit besonderhede in soos oorsaak van fout, jou naam, kontaknommer, ID-nommer, meter-nommer, woonbuurt, straat en huisnommer.

Klagtes oor kragonderbrekings kan gerig word by die volgende nommers: 086-007-6937 of 051-409-2345. Stuur ’n WhatsApp na 068-178-0700 en sluit besonderhede in soos oorsaak van fout, jou naam, kontaknommer, ID-nommer, meter-nommer, woonbuurt, straat en huisnommer.

’n Afdak by ’n kantoorkompleks in Pres. Reitzlaan wat in gisteraand se storm beskadig is. Foto: Madré Marais

Intussen begin die stad se watertoevoer stadig normaliseer.

Die Arboretum-reservoir staan nou op 13%, Hamilton op 31%, Heuwelsig op 60% en Dan Pienaar op 83%.

Stuur foto’s van skade wat aangerig is in Bloemfontein na lientjie.mentz@media24.com met beskrywing van wat gebeur het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article