’n Dokterspraktyk by College Square in Bloemfontein het nie net die afgelope drie jaar ’n goeie bydrae tot Engo se jeugsorgsentrums gelewer nie – die mure vol kunswerke wat oor jare heen ten bate van Engo aangeskaf is, kikker ook pasiënte se dag op.
Yvette Pretorius, praktykbestuurder van die EXP- Mediese Sentrum, sê sy het drie jaar gelede die eerste vier kunswerke op die veiling wat as deel van Engo se Meesterstuk-konsert aangebied word, gekoop. Kinders van verskeie Engo-jeugsorgsentrums skilder jaarliks kunswerke wat dan op dié geselligheid in Mei opgeveil word.
“Verlede jaar was ’n wilde jaar,” vertel Yvette, laggend.
“Ons het die vorige jaar met die muur begin, en dit was so lekker om nog prentjies vir ons Engo-muur te koop.”
By elke kunswerk word die boodskappie van die kind wat dit geskilder het, wat oorspronklik vir die koper ingesluit is, vertoon sodat besoekers aan die praktyk die hele storie kan kry.
Dit wat die kunswerke uitbeeld, wissel van ’n portret van Jan van Riebeek wat ’n sjokolade-melkie drink, tot pragtige prentjies van skoenlappers, olifante en portretstudies.
Marinique du Plessis, maatskaplike werker by Engo, sê toe sy van die Engo-muur hoor, moes sy eenvoudig gaan inloer.
“Dit is wonderlik om te sien hoe geesdriftig die dokters en Yvette by dié praktyk is oor ons Meesterstuk-kunswerke,” sê sy.
Tyd raak min om skenkings te doen om Engo se Projek van Hoop te ondersteun en sodoende die kans te staan om ’n splinternuwe Renault Kwid te wen. Besoek vandag nog Engo se webblad en doen ’n skenking van minstens R30 om hiervoor in aanmerking te kom. Inskrywing vir die Projek van Hoop sluit op 15 November om middernag, en die finaliste sal in Desember aangekondig word.




