Ná die sukses van Tinus le Roux se eerste boek met kleurfoto’s van die Anglo-Boereoorlog, het daar nou nog ‘n boek verskyn wat dié tyd in Suid-Afrika se verlede uitbeeld.
Meer as 14 000 van die eerste uitgawe, Die Anglo-Boereoorlog in Kleur: Konvensionele Oorlog, 1899-1902, Volume 1 wat in 2022 verskyn het, is verkoop.
Le Roux het op 5 Desember die tweede volume van die boek by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein bekendgestel. Die Anglo-Boereoorlog in Kleur: Guerrillaoorlog, 1900-1902, Volume 2 is ‘n voortsetting van die verhaal van die oorlog waarin oorspronklike foto’s digitaal ingekleur is en ‘n nuwe perspektief op die oorlog bied.

Le Roux sê die eerste boek het die chronologiese vertelling van die gebeure van die oorlog bevat, tewyl die tweede boek verskeie aspekte van die latere deel van die oorlog uitbeeld.
“Dit was ‘n bietjie meer uitdagend om steeds die storie te vertel, maar verskeie uiteenlopende aspekte byeen te bring,” sê hy.
Dit sluit in albums oor die Boeremagte in die veld; die Britse magte in die veld; die verskroeideaardebeleid; Boerekrygsgevangenes en konsentrasiekampe; en die sluiting van vrede.
Die foto’s is bekom uit versamelings van individue soos Nico Moolman, wat negatiewe van foto’s uit die oorlog gedigitaliseer het, en die Oorlogs-
museum wat oor meer as 10 000 foto’s uit die era beskik. Moolman is in Augustus oorlede en Le Roux het spesiaal melding gemaak van sy bydrae en ‘n boek aan sy dogter, Melanie Moolman, geskenk.
Van die foto’s kom ook uit versamelings in die buiteland soos reglementsmuseums in Brittanje en die Rijksmuseum en Zuid-Afrikahuis in Nederland.
Hoewel daar oorvloedig foto’s van die Britse soldate in hierdie tydperk van die oorlog was, was daar min van die Boeremagte.
Anders as die begin van die oorlog toe formele foto’s deur fotograwe geneem is, was daar geen fotograwe saam met die burgers tydens die guerrilla-oorlogvoering nie. Foto’s van die burgers is dus uiters skaars. In teenstelling daarmee het talle Britse soldate hul eie bokskameras gehad.
Le Roux sê daar was geen geriewe in Suid-Afrika waarmee dié films ontwikkel kon word nie, so alles moes met die boot weggestuur word om ontwikkel te kan word.
In die boek is foto’s wat nog nooit voorheen gepubliseer is nie, soos twee foto’s van ‘n huis wat afgebrand word in die Britte se verskroeide-aardebeleid. Daar word bereken dat meer as 30 000 huise deur dié beleid, waarvolgens strydende Boere se huise afgebrand is en die vroue en kinders weggevoer is na konsentrasiekampe, afgebrand en verwoes is.

Dr. Johan van Zÿl van die Oorlogs-museum, wat op die bekendstelling met Le Roux gesels het, sê wat vir hom besonders is, is dat die nasleep van die oorlog ook uitgebeeld word.
“Dit is ‘n wonderlike toevoeging om die toepaslikheid van die oorlog op die jare daarna uit te beeld. Dit sluit in die talle leiersfigure tydens die oorlog aan Britse en Boere-kant en wat later jare van hulle geword het.”
Verder is kortliks dele oor die Eerste Wêreldoorlog, die 1914-rebellie, die Tweede Wêreldoorlog en die einde van die Boeregeneraal-era.
Le Roux sê die eerste boek is ses keer herdruk, waarvan die laaste herdrukke dié van die Engelse weergawe is. Volume 2 is ook in Engels te kry.
■ Een leser kan Die Anglo-Boereoorlog in Kleur, Volume 2 wen. Besoek BloemNuus se Facebook-blad en volg die instruksies by die inskrywing oor die boek.






You must be logged in to post a comment.