Amy Kotzé van die Hoërskool Witteberg in aksie teen die span van Jim Fouché. FOTO: Verskaf

Die laaste ronde van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks vind op Saterdag 2 Augustus plaas.

Dit is die einde van ‘n reeks waaraan agt skole in die Vrystaat en Noord-Kaap deelgeneem het.

Ses van die skole ding Saterdag in Bloemfontein mee. Die Hoërskool Goudveld van Welkom speel hier teen die Hoërskool Jim Fouché (JF). Die Hoërskool Witteberg is by die Hoërskool Sentraal, en Bethlehem Voortrekker Hoërskool speel teen die Hoërskool Fichardtpark.

Lehané Roets van die Hoërskool Trio se eerste netbalspan in die wedstryd teen die Hoërskool Fichardtpark. Foto: Verskaf

Op 24 en 25 Julie was Witteberg en JF slaags in Bethlehem.

Witteberg se rugbyspanne het besonder goed gevaar en sewe van hul nege wedstryde gewen – insluitend ‘n indrukwekkende 35–18 oorwinning deur die eerste span.

In netbal was die eerstespantelling 42 elk. Witteberg het die meisieshokkie met 3 − 1 gewen, en JF se seunshokkiespan het met 8 − 0 gewen.

In Welkom was die spanne van die Hoërskool Goudveld op dieselfde datums teen die spanne van die Hoërskool Sentraal in aksie.

Ná ‘n tawwe eerstespanrugbywedstryd verloor Goudveld met 26 − 34 teen Sentraal.

Die wedstryd tussen die eerste-seunshokkiespanne het geëindig in oorwinning vir Sentraal, met 3 − 1. Die stryd tussen die eerstemeisieshokkie-spanne het Goudveld met 5-1 gewen.

In Kroonstad het die Hoërskool Fichardtpark teen die Hoërskool Trio meegeding.

Trio se eerste rugbyspan het met 22 − 13 gewen, en in die netbal het Fichardtpark met 45 − 30 geseëvier.

Trio se eerste meisieshokkiespan het Fichardtpark met 3 − 2 geklop, terwyl Fichardtpark in die seunshokkie-kragmeting met 1 − 0 gewen het.

wesgrow

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article