Die Suid-Afrikaanse pluimbalspeler van Bloemfontein wat verlede jaar aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, het ‘n ekstra uitdaging aangeneem vir die 2028- Olimpiese Spele.
Nita Scholtz-Albertse wat in 2024 as enkelspelspeler deelgeneem en presteer het, wil vir 2028 boonop vir die dubbelspel kwalifiseer.
Sy het dié seisoen doelbewus haar basis versterk in terme van beter tegnieke, asook om die kombinasie met haar nuwe dubbelspelmaat vir die volgende paar jaar, Amy Ackerman van Gauteng, te beproef. Hulle het op die Afrika-kampioenskapsbyeenkoms in Kameroen gewys wat hulle kan uitrig toe hulle die titel gemaklik gewen het.

Scholtz het hierna internasionaal deelgeneem. Die toer het in Zambië begin, van 13 tot 16 November. Sy het die kwarteindstryd gehaal, en is teen ‘n Italiaanse teenstander uitgeskakel. Sy en Ackerman het goud in die vrouedubbelspel verwerf.
Hierna is die span na die toernooi in Botswana, van 20 tot 23 November. Scholtz het in die halfeindstryd ‘n speler van Pole in twee skoon stelle geklop, voordat sy in die eindstryd oor ‘n Indiese speler geseëvier het. Weer het sy en Ackerman ‘n goue medalje in die dubbelspel gewen. Scholtz het ‘n
silwermedalje in die gemengde dubbelspel met Caden Kakora bygevoeg.

Die Kaapstad-toernooi is van 27 tot 30 November gehou. Scholtz moes met silwer in die eindstryd tevrede wees. In die dubbelspel het sy en Ackerman ‘n derde titel ingevorder.
Scholtz en Ackerman berei verder voor met ‘n oefenkamp in Desember; daarna ‘n Europese toer in Januarie, en toernooie in Swede, Estland en Ysland.






You must be logged in to post a comment.