School Rugby

Wesvalia pak die pad na Bloemfontein toe waar die Bruin Bere Saterdag, 7 Maart, by die Fichardtpark-sportdag teen Hoërskool Sentraal gaan kragte meet. Albei spanne dra littekens van verlede naweek se uitslae, en albei is desperaat om sake reg te stel.

Sentraal, beter bekend as Tralies, het verlede week ‘n goeie terugvegpoging geloots teen Lichtenburg. Nadat die Liggies hulle aanvanklik styf in ‘n hoek gedruk het, het Tralies teruggeslaan met agt drieë om die oorwinning te kry. Die probleem sit in die verdediging, om sewe drieë af te staan is nie die resep vir sukses nie.

Wesvalia se vorige uitslag brand waarskynlik nog erger. Hulle het in ‘n verkorte wedstryd naelskraap teen Witteberg verloor, en dit was veral die vaste fasette wat hulle gepootjie het. Witteberg het die Bruin Bere se skrums uitgebuit.

Willem van der Sandt, direkteur van rugby by Wesvalia, weet sy manne sal skerp moet wees om Sentraal se gevaarlike aanvallende spel te kelder.

“Ons het hard gewerk aan die plekke wat ons na die vorige wedstryd identifiseer het. Die span groei saam en ons is reeds ‘n beter weergawe van onsself as verlede week. Dit gaan ‘n baie kompeterende wedstryd teen Sentraal wees,” het hy gesê.

Die taktiese speletjie belowe om intens te wees. Rohan Erasmus, afrigter van Sentraal se 1ste XV, is waaksaam vir die fisiese uitdaging wat die Bruin Bere gaan bring.

“Hulle het ‘n groot pak voorspelers en spoed op die punte. Ons sal skerp moet wees op ons verdediging en dan in die vaste fasette ons bal moet wen om onsself ‘n goeie kans te gee. Vinnige bal gaan van kardinale belang wees vir beide spanne om druk op die aanval te hou. Ons sal moet werk daarvan om ons bal te bewaar. Ek dink dit gaan ‘n naelbyter wees,” het Erasmus verduidelik.

Die span wat die vaste fasette domineer, sal waarskynlik die platform bou om die wedstryd te beheer.

Vir albei spanne is dit die laaste kans om die laaste fyn verstellings te maak voordat die ernstige besigheid begin. Wesvalia skop volgende naweek hulle NWU-prestige-reeks teen Lichtenburg af, terwyl Sentraal se Wesgrow-veldtog teen Witteberg begin.

Geen afrigter kan bekostig om met onbeantwoorde vrae in die kompeterende deel van die seisoen in te stap nie. Saterdag sal die antwoorde uit gepers word, of nog meer vrae sal geskep word.

Gift this article