’n Oproep om te help om ’n wasmasjien vir ’n tehuis vir bejaarde inwoners met psigiatriese behoeftes te koop, is in drie en ’n half uur beantwoord.
Leonie Coetzee, ’n inwoner van Universitas, sê hulle het daarvan bewus geword dat die Athalia Huis Liefde in dié woonbuurt, se wasgoed druipnat die hele tuin vol hang.
“Ons het uitgevind die wasmasjiene is gebreek en kan nie die wasgoed op die uitdroogsiklusse droog maak nie en alles moet met die hand uitgedroog en opgehang word om droog te word.”
Sy en haar seun, Brendan de Winnaar, wat by Samsung werk, het eendag by die huis oor Huis Liefde se behoefte gesels. Toe daar aangekondig word dat daar van vandag (27/05) ’n spesiale aanbod op ’n spesifieke 21 kg-wasmasjien is, het hy gou gereël dat een uitgehou word.
“Ons het om 06:30 op die WhattsApp-groep geplaas dat ons ’n wasmasjien vir die huis teen R13 500 kan kry en dadelik het mense van oral oor af aangebied om geld te skenk. In net meer as drie uur het ons die hele bedrag gehad.”
Net ná 10:00 het sy ’n boodskap gestuur dat hulle die bedrag ingesamel het.
Teen 14:00 het Leonie laat weet dat hulle reeds die wasmasjien opgelaai het en teen 14:30 is die wasmasjien, tesame met twee pakke wasgoedseep en wasgoedversagmiddel wat deur Samsung geskenk is, by die huis afgelewer.
Sanna Peter, die huishulp wat elke dag die wasgoed van die 21 inwoners van dié huis moet was, het Vrydag breed geglimlag oor dié geskenk.
Dot van Niekerk, versorger by Huis Liefde, het vir die vroue ’n stemboodskap gestuur waarin sy haar dank betuig het.
“Sanna sukkel so,” sê sy. “Julle is so goed vir ons. Ons waardeer jul moeite so baie.”
Sanna sê hulle sukkel al twee maande met die wasmasjiene wat nie die klere wil droogdraai nie. “Ons moet alles met die hand droogmaak en ophang.”
Almarie Entius van die Universitas-woonbuurtvereniging het vroeër die dag gaan help om nog tydelike wasgoedlyne op te hang waaraan die wasgoed gehang kan word. Daar is nog geld oor en hulle gaan help dat Huis Liefde nou ook bykomende wasgoeddrade kry waaraan die inwoners se klere gehang kan word.
Ans Coetzee, stigter en hoof van Athalia, sê die wasmasjien is ’n kosbare geskenk.
“Net gister (26/05) was die elektrisiën daar om na die wasmasjiene te kyk,” sê sy. Die een kan hy nie regmaak nie en vir die ander een kan hy nie ’n part kry nie.
“Ons het elke dag linne wat gewas moet word, so ons was regtig in die knyp. Die wasmasjien is ’n vreeslike groot geskenk. Die Here seën ons so. Ons spreek regtig die Here se seën uit oor elke donateur wat gehelp het dat ons dié kosbare geskenk kry.”




