Protea Karla sluit heeltyds by Hoërskool Fichardtpark aan om netbaltalent te slyp

Ster-netbalspeler Karla Pretorius is die nuwe hoofafrigter vir dié sportsoort by die Hoërskool Fichardtpark. Saam met haar is die skoolhoof, Herman van der Merwe, wat haar vroeër die week by die skool ontvang het. Foto: Lientjie Mentz


Die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein spog nou met een van die beste netbalspelers in die land as hoofafrigter vir dié sportsoort by die skool.

Karla Pretorius, wat vanjaar ’n derde keer vir die Proteas in ’n wêreldbeker op die baan gedraf het, gaan nie weer terugkeer na Australië, waar sy sedert 2016 vir die Sunshine Coast Lightning professioneel netbal gespeel het nie.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe fase in my lewe,” het Karla vandag aan Bloemnuus gesê.

“Ek doen lankal afrigting by skole, maar kon dit weens my professionele netbalverpligtinge nie langtermyn doen nie.”

Die pos by Fichardtpark gaan haar nou in staat stel om baie aandag aan afrigting te gee.

Karla vertrek vanmiddag saam met haar mede-Vrystaters in die Protea-span na Johannesburg, waar hulle hulself vir volgende week se toetsreeks teen Australië sal voorberei.

Sy het vandag reeds met die netbalafrigters by Fichardtpark vergader om te gesels oor vaardighede wat die meisies intussen kan oefen.

Herman van der Merwe, skoolhoof van Fichardtpark, sê dit is ’n wonderlike voorreg om Karla by die skool te ontvang.

“Die Fichie-gemeenskap is baie opgewonde dat Karla haar by Fichies-netbal aansluit. Min netbalspelers in die wêreld het soveel ondervinding van die nuutste afrigtingsmetodes en kondisionering. Die tye dat sy met jongmense gewerk het, het sy ’n ongelooflike invloed op hul menswees gehad.

“Afrigting gaan juis oor baie meer as net afrigting – ook invloed op jongmense se lewe as mentor.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article