Inwoners van die Reënboog-sentrum vir bejaardes in Heidedal is op 6 Julie op veelkleurige serpe trakteer as deel van die beweging 67 Komberse vir Nelson Mandeladag se Secret Scarf Shhh-projek (SSS).
Dit was deel van ’n nasionale projek waarin mense snoesige serpe gebrei en dit by verskeie hospitale, skole, gemeenskapsentrums en sentrums vir bejaardes oor die land heen uitgedeel het.
Dit volg op die suksesvolle Rainbow Nation Blanket of Hope-projek in Mei, waardeur 4 500 komberse aan Gift of the Givers oorhandig is om aan inwoners van KwaZulu-Natal uit te deel.
Die SSS-projek gaan voort, met die tema daarvan om gesondheidwerkers te bedank vir hul harde werk en opofferings die afgelope 28 maande.
Volgens Carolyn Steyn, stigter van 67 Komberse vir Nelson Mandeladag, is almal opgewonde om ná die lang inperking te kan uitgaan, ’n verskil te maak en hoop te gee aan almal in die reënboognasie.
“Ek kan nie genoeg dankie sê aan almal wat help brei het aan die serpe om ’n bietjie warmte aan mense oor Suid-Afrika heen te bring nie,” sê Steyn.
“Vanjaar het ook leerlinge van laer- en hoërskole aan dié projek deelgeneem.”
Die serpe is by die Reënboog-sentrum aan toue tussen bome gehang en die 120 inwoners is genooi om vir hulself een te neem.
Daarmee saam het inwoners sop gekry.
Lindiwe Mnguni, plaaslike ambassadeur van 67 Komberse vir Nelson Mandeladag, sê sy is besonder dankbaar teenoor almal wat gehelp het om die plaaslike projek moontlik te maak.




