Nóg soorte grondboontjiebotter van winkelrakke verwyder

Van die grondbootntjiebotter wat nou van rakke verwyder word.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Kort nadat Pick n Pay sekere soorte grondboontjiebotter van hul rakke af verwyder het, is nog soorte grondboontjiebotter nasionaal van rakke in verskillende winkels verwyder.

Verbruikers word gevra om dadelik op te hou om sekere soorte grondboontjiebotter te gebruik en dit terug te neem na die winkel waar dit gekoop is vir ’n terug­betaling.

Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het Vrydag bekend gemaak Dis-Chem se Life­style (Smooth en Crunchy, 400 g en 800 g), Wazoogles Superfood se grondboontjiebotter (32 g tot 20 kg), Pick n Pay se 1 kg Smooth en Eden All Natural se grondboontjiebotters word herroep.

Daar is bevind dat dié produkte, wat deur House of Natural Butters vervaardig word, vlakke van aflatoksien het wat hoër as die aanvaarbare vlak is en daarom as ongeskik vir menslike inname beskou word.

Daar is bevind dat dié produkte, wat deur House of Natural Butters vervaardig word, vlakke van aflatoksien het wat hoër as die aanvaarbare vlak is en daarom as ongeskik vir menslike inname beskou word.

Dié gifstof word deur swamme afgeskei wat op landbouprodukte soos grondbone kan voorkom en in groot hoeveelhede tot vergiftiging kan lei wat lewerskade veroorsaak.

Blootstelling oor ’n lang tyd word ook met die gevaar van lewerkanker verbind.

Volgens die NVK is hy deur die vervaardiger in kennis gestel dat die produkte nie aan die wettige vlakke van aflatoksien voldoen nie.

Die produkte van Pick n Pay, Eden All Natural en Dis-Chem Lifestyle word landwyd verkoop, terwyl Wazoogles Superfood hoofsaaklik in die Wes-Kaap verkoop word.

Pick n Pay het op 3 Februarie bekend gemaak dat No Name Smooth, Eden Smooth en Eden Crunch van die mark onttrek word, ook weens die vlakke van aflatoksien.

Thezi Mabuza, waarnemende verbruikerskommissaris, sê in ’n verklaring die NVK gaan die stand van sake by House of Natural Butters ondersoek en ook bepaal of ander handelsmerke geraak word. Die NVK het ’n beroep op vervaardigers en verskaffers van grondboontjiebotter gedoen om aan die regulasies te voldoen en dringende toetse uit te voer om die veiligheid van produkte vas te stel.

Simptome van die inname van aflatoksien sluit in naarheid, braking en buikpyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article