Musikante, en in besonder vyf “bands”, het 25 jaar gelede bymekaargekom om ’n geldinsamelingskonsert te hou vir ’n mede-musikant, Ronny Laing, wat sy sig verloor het.
Die konsert was die inisiatief van musikant Deon van Rooyen, en is Music Man 1 gedoop.
Daarna het nog drie Music Man-konserte gevolg met die doel om mede-Bloemfonteinse musikante wat in nood was te identifiseer en geld in te samel.
Musikante en “bands”wat deelgeneem het, het gratis opgetree.
Music Man 3 is ’n aantal jare gelede aangebied ten bate van Tim Hoare, ’n klawerbordspeler, pianis en begaafde Hammond-orrel speler, wat ’n deel van Johnny Clegg en Savuka was.
Hy het erge brandwonde opgedoen tydens ’n bootreis op die Breëderivier, toe sy boot ’n elektriese kabel geraak het. Sy enigste seun het in dié ongeluk verdrink.
Musikante en ander kunstenaars beskik nie oor pensioen- en siekefondse nie, wat betreurenswaardig is, sê Van Rooyen. “Vandaar dié poging om mekaar te ondersteun.”
Music Man 4 word vir 26 April beplan, ten bate van nog ’n bekende Bloemfonteinse musikant, Roy Visser.
Visser se wortels lê in die blues. Hy het die afgelope 50 jaar gehore oor Suid-Afrika heen vermaak met sy tradisionele blues-inslag.
Hy word tereg genoem Roy “boom boom” Visser genoem – na aanleiding van ’n lied geskryf deur die Amerikaanse blueskitaarspeler en sanger John Lee Hooker.
Van Rooyen sê Visser verlaat Bloemfontein binnekort om hom in die Kaap te gaan vestig en ’n bietjie rustiger te leef.
Die vertoning op 26 April beloof ’n aand van heerlike vermaak, met egte bluesmusiek deur die Built 4 Comfort Blues band en regte rockmusiek so uit die 1970s deur die Rockspiders, tesame met gaskunstenaars Belinda van Zwijndrecht, Johan Garies, Gus Myburgh en Roy Visser.
Al die musikante wat op dié aand optree, doen dit gratis om hierdie goeie saak te ondersteun.
Music Man 4 vind plaas in die Aasvoëlklub te Kelly’s View en begin om 19:30. Kaartjies is teen R100 by die deur beskikbaar.
Rig navrae aan Hein Griesel by 084-559-8991, Johan Garies by 082-828-5899 of Van Rooyen by 076-787-0453.





