Van die modelmotors wat op die Cars in the Park-motorskou uitgestal is. Foto: Verskaf


Van ’n 1911-Ford Model T en ’n 1924-Bentley, tot ’n 2024-Ford Mustang was onder die sowat 300 voertuie waaraan oud en jonk hulle op die jaarlikse Cars in the Park-motorskou in Bloemfontein kon verkyk.

Die motorskou, waarop veral klassieke motors vertoon word, het op 1 Mei van motorgeesdriftiges én nuuskieriges by die Martie du Plessis-skool gewemel.

Die skou word jaarliks deur die Vrystaatse Veteraanmotorklub, in samewerking met die Bloemfontein-modelmotorklub, ten bate van liefdadigheid aangebied.

Die skool is die hoofbegunstigde.

Van die modelmotors wat op die Cars in the Park-motorskou uitgestal is. Foto: Verskaf

Volgens René Greenland, voorsitter van die Vrystaatse Veteraanmotorklub, het sowat 2 700 besoekers die geleentheid op Werkersdag bygewoon.

Speelgoed en modelmotors is ook in drie sale op die terrein uitgestal.

Jacques Pretorius, voorsitter van die Bloemfontein-modelmotorklub, sê die speelgoedskou is baie goed in die sale ondersteun.

“Dit was seker een van die suksesvolste uitstallings nog.”

Leah Strydom (4) van Bloemfontein het vanaf haar uitkykpunt, pa Reinhardt se skouers, na die motors op die skool se sportveld gekyk.

Dié blondekopdogtertjie, wat die geleentheid vanjaar die eerste keer bygewoon het, se hart het met ’n punt getrek na die 1976-Ford F100-bakkie. Sy wil dié bakkie hê, het sy gesê. Reinhardt sê hy en sy vrou, Chanel, en ander familielede hou baie van ou motors en woon die motorskou gereeld by.

Basie Cronjé (86), ook ’n plaaslike inwoner, sê hy is mal oor ou motors. Hy het sowat ’n jaar gelede vanaf Pretoria na Bloemfontein verhuis en gereeld motorskoue in die Jakarandastad bygewoon, vertel hy.

’n 1924-Bentley het ook baie aandag getrek.

Die voertuig is sedert 1972 in die Fonternel-familie van Bloemfontein se besit nadat dit van Engeland ingevoer is.

Dié eeu oue Bentley ry nog.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article