Een van die figuurtjies wat in die oorlogspeletjies gebruik word.Foto: Verskaf


Speletjies is beslis nie net vir kinders nie.

Op Woensdag 1 Mei se Cars in the Park by die Martie du Plessis-skool sal besoekers na spoggerige vuurwaens kan kyk, maar ook na piepklein figuurtjies en modelmotors.

In een van die sale sal besoekers kan sien hoe een van die nuutste internasionale stokperdjies beoefen word – waar deelnemers uiting gee aan hul verbeelding deur die saamstel van veldslae in histories denkbeeldige én futuristiese oorloë met behulp van skaalmodelletjies en figuurtjies.

Jacques Pretorius van die Bloemfontein-modelmotorklub sê daar is nou drie groepe in die stad wat War Gaming beoefen – Warhammer 40, Infinity en Bolt Action.

Nog iets opwindend op vanjaar se Cars in the Park, is die Ride to Die-Cast, waar deelnemers hul motors voor ’n banier kan parkeer om ’n foto te laat neem. Inskryfgeld is R50. Een van die motors gaan gekies word en ’n modelmotortjie gaan van dié motor gemaak word.

Wat modelmotors betref, is van die bekende name Dinky, Matchbox, Hotwheels en Corgi.

Pretorius sê ’n ander vervaardiger is die Franse Majorette. Dit is geskep deur Emile Veron.

Cars in the Park en die speelgoedskou begin Woensdag om 08:00 en duur tot 14:00. Toegang kos R40. Kinders betaal R10, en dié jonger as tien jaar kry gratis toegang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article