Memorandum oor swak polisiëring tydens optog in Bloemfontein oorhandig

Genl. maj. Arthur Adams (links) voor die Heidedal-polisiekantoor, luitster terwyl Shadrack Muishond, voorsitter van die Heidedal Civic Association, die memorandum voorlees.Foto: Lientjie Mentz


Inwoners van Heidedal in Bloemfontein het gister ’n optog van die Norman Doubell-saal na die Heidedal-polisieskantoor gehou om hul ontevredenheid oor dié polisiekantoor te kenne te gee.

In ’n memorandum wat lede van die Heidedal Civic Association aan genl.maj. Arthur Adams, die Mangaung-distrikskommisaris, oorhandig het, lys hulle klagtes oor dié polisiekantoor.

Shadrack Muishond, voorsitter van die vereniging, sê die diens wat dié polisiekantoor lewer, is van swak gehalte. “Die gemeenskap voel afgeskeep in die sin dat hul veiligheid en welstand nie in ag geneem word nie. Pogings om sake by die stasiekommisaris aan te meld, het op dowe ore geval,” het hy gesê toe hy die memorandum voor die kantoor aan Adams oorhandig het.

Een van die gemeenskap se grootste probleme, is kommunikasie. “Die polisiebeamptes wat daar werk, wil nie of kan nie die taal van die gemeenskap praat nie,” het Muishond gesê. “Dit maak dit baie moeilik vir veral bejaardes wat nie Engels of Sotho magtig is nie, om ’n klagte te lê. Dit maak dit moeilik om misdade aan te meld en hulp van die polisie te kry.”

Van die ander klagtes wat in die memorandum gelys word, is die polisie wat nie optree teen dwelmhandelaars en dwelmhuise in Heidedal, wat lei tot misdaad en jong mense se verslawing aan dwelms.

Muishond sê die polisie het gereeld verskonings dat hulle nie genoeg voertuie het om na misdaadtonele te gaan nie.

Talle inwoners sê sommige van die polisielede het nie respek vir lede van die gemeenskap nie en is ongeskik, wat daartoe bydra dat vertroue en samewerking tussen die gemeenskap en die polisie afgetakel word.

In die memorandum kla die vereniging dat die polisie nie oproepe beantwoord nie, wat die gemeenskap hulpeloos laat voel.

“Sommige van die polisiebeamptes op nagskof is al uitgevang dat hulle slaap terwyl hulle aan diens is,” het Muishond gesê.

Luidens die memorandum kla die vereniging ook dat daar ’n gebrek is aan opvolgwerk oor sake, wat die gemeenskap in die duister laat oor die status en uitkoms van klagtes wat daar gelê word.

Hy het ook gesê die gemeenskap is nie blaamloos nie. Hy het verwys na inwoners wat hul motorhuise verhuur aan buitelanders. Hy het ook gesê die gemeenskap ken die dwelmhandelaars. “Hulle het nie uit die lug geval nie. Dit is die gemeenskap wat hulle grootgemaak het. Hierdie mense wat nou hierdie einste gemeenskap vernietig.”

Muishond sê die gemeenskap het vertroue verloor in die stasiebevelvoerder se vermoë om te lei en die Heidedal-polisiekantoor te bestuur. “Ons eis dat hy vervang word met iemand wat bevoeg is en omgee.”

In antwoord het Adams gesê hierdie is nie klagtes wat hy nog nie voorheen gehoor het nie.

Hy het onder meer verwys na die geleentheid Vrydag waarop die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale en genl. Fannie Masemola, die nasionale kommisaris van die SAPD, in Grasland geluister het na die klagtes van inwoners wat deur die Bloemspruit-polisiekantoor bedien word.

“Ons as polisie val tekort aan die verwagtinge van die gemeenskap,” het Adams gesê. Hy het die mense by Sondag se optog geloof omdat hulle diplomaties opgetree het. Hy het ook gesê al het hy nie te kenne gegee dat hy die memorandum in ontvangs sou neem nie, hy van die begin af van plan was om daar te wees.

“Ons het die gemeenskap nodig,” het hy gesê.

Behandel ons met respek, ons is nie honde nie, is van die plakkate wat lede van die gemeenskap Sondag in ’n optog na die Heidedal-polisiekantoor gehou het.Foto: Lientjie Mentz

Hy het ook gesê die gemeenskap is nie blaamloos nie. Hy het verwys na inwoners wat hul motorhuise verhuur aan buitelanders. Hy het ook gesê die gemeenskap ken die dwelmhandelaars. “Hulle het nie uit die lug geval nie. Dit is die gemeenskap wat hulle grootgemaak het. Hierdie mense wat nou hierdie einste gemeenskap vernietig.”

Hy het die aktiviste aangemoedig om hul rol te speel in die gemeenskap.

Die Heidedal Civic Association het versoek dat Adams binne 14 dae terugvoer gee oor hul klagtes en hy het beloof om binne dié tyd vir hulle terugvoer te gee.

Lede van die Heidedal-woonbuurtvereniging het gehelp om orde te hou tydens die optog. Die polisie het die optoggangers vergesel. Verteenwoordigers van die DA, ActionSA, die Patriotic Alliance (PA), ANC en EFF het ook aan die optog deelgeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article