Laat my nooit die grond verlaat nie.
Dié woorde van “Gebed” was van die liedere wat gesing is op die roudiens van Marie-Louise Nel wat Saterdag (11/02) op die De Oude Kraal-landgoed buite Bloemfontein gehou is.
Honderde vriende en kennisse het saam met Gerhard en Marie Lombard afskeid geneem van hul dogter.
“Ons verloor ons kind, vennoot, sjef, ma van ons kleinkinders, bestuurder. My alles. My lewe waarvoor ons gewerk het,” het Marie kort ná Marie-Louise se dood op 31 Januarie gesê.
Sy, asook Marie-Louise se susters Helen-Joan en Carmen-Ann het boodskappe aan Marie-Louise op die diens gelewer.
Carmen-Ann het in haar boodskap gesê een van Marie-Louise se wonderlike eienskappe was dat sy mense se behoeftes kon raaksien. Sy het haar bedank vir al die smulhappies waaraan hulle so lekker kon smul. “Jou kos het nie teruggestaan vir enige ander gourmet-sjef nie,” het sy gesê.
In haar boodskap wat tydens die diens voorgelees is, skryf Marie: “Marie-Louise, jy was ons trots. Jy was ons lewenslyn. Jy kon ’n bruid se troue ongelooflik maak. Die skitter in jou oë nadat almal bly was ná die troue, sal my bybly.”
Ná die diens het gaste die geleentheid gehad om ballonne met boodskappies vir Marie-Louise in die sagte reën los te laat.
“Dit is moeilik om te dink ons gaan haar nie weer sien nie,” het Cézanne Yzelle gesê terwyl gaste die ballonne oor De Oude Kraal loslaat. “ ’n Mens wag dat sy enige oomblik met haar walkie-talkie hier in die paadjie afgestap gaan kom.”
Cèzanne, Jacobus Silwer, Mario Lategan en Corneil Muller het tydens die diens opgetree.
Marie-Louise laat ook haar man, Jan-Hendrik Nel en hul twee kinders Emma (5) en Henco (2) agter.
Ná die diens het die familie tydens ’n privaat-seremonie Marie-Louise se as op De Oude Kraal gaan strooi.





