Oudleerlinge van Eunice High School en die Hoër Meisieskool Oranje is onder die hokkiespelers wat Suid-Afrika op die Olimpiese Spele in Parys verteenwoordig.
Boonop het twee van die spelers, Antonet Louw (Oranje, 2014) en Taheera Augousti (Eunice, 2022 en 2023) aan die Fairtree Super 12-hokkietoernooi deelgeneem.
Die toernooi sal binnekort weer in Bloemfontein aangebied word.
Die helfte van die senior span wat nou in die Olimpiese Spele speel, het almal vroeër aan die Fairtree-toernooi deelgeneem.
Olimpiese gouemedaljewenner Wayde van Niekerk se suster, Kayla Swarts (ook ’n oudleerling van Eunice), reis boonop saam met die Protea-span as reserwe.
Wayde neem op 5 Augustus in die eerste uitdun van die 200 m-atletieknommer vir mans plaas.
Nog ’n Bloemfonteiner wat op die spele in aksie was, is die pluimbalspeler Nita Scholtz-Albertse.
Sy het in twee enkelspel-wedstryde gespeel: op Saterdag 27 Julie teen die 11de gekeurde Koreaan Ga Eun Kim en Maandag teen die eerste gekeurde Jin Wei Goh van Maleisië.
Albertse se Bloemfonteinse afrigter, Johan Kleingeld, sê sy het fantasties gespeel en meegeding teen die topspelers in die wêreld.
In die wedstryd teen Goh het sy met 21 – 23 en 11 – 21 verloor.
Sy is uitgeskakel, maar Kleingeld glo sy het waardevolle ondervinding opgedoen en dat sy op die Olimpiese Spele in 2028 kan mik na ’n medalje.
Die Protea-vrouehokkiespan het Sondag met 1 – 2 teen Australië verloor en Maandag het Argentinië die Suid-Afrikaanse span met 4 – 2 geklop.
Hierdie span het gister teen teen Brittanje 2-1 verloor en pak in hul finale groepwedstryd vandag die span van Spanje.
Nog iemand met Bloemfontein-verbintenisse op vanjaar se Olimpiese Spele is die afrigter van die Blitzbokke, wat brons op die spele gewen het, Philip Snyman.





