Nie net is Michiel Kruger (79) weer die top-rolbalspeler in sy afdeling (B1) in die wêreld nie, hy was ook weer die oudste rolbalspeler in die Internasionale Rolbaltoernooi vir mense met Gestremdhede (IBD) wat van 17 tot 31 Mei in Germiston plaasgevind het.
In dié toernooi ding spelers met verskillende vorme van gestremdheid mee. Spelers uit lande soos Engeland, Hongkong, Singapoer en Thailand het deelgeneem.
Kruger, wat op 14-jarige ouderdom probleme met sy sig begin ervaar het, het goud gewen in die B1-enkelspel en het saam met sy spanmaat Tracy Smith van Gauteng silwer in die dubbelspel verower.
Die twee het al hul wedstryde gewen en slegs in die laaste ronde teen Iron Tang Tsz Long en Mak Ka Yee van Hongkong vasgeval.
Dit is die derde keer dat Kruger as die internasionale enkelspelkampioen gekroon word. Hy het ook goud gekry in die enkelspel in 2011, en in 2015.
In die dubbelspel het hy ook goud gekry in 2015, 2017 en verlede jaar in Australië in die internasionale rolbaltoernooi vir mense met gesiggestremdheid.
Kruger is in die afgelope toernooi weer vergesel deur sy gids Willie Schoeman, wat al sedert 1999 saam met hom deelneem.
Nog ’n Bloemfonteiner, Jakes Jacobs (69), en sy dubbelsmaat, Nico Vermeulen, het die wêreldkampioenskapstitel in die dubbelspelafdeling vir mans met fisieke gestremdhede verower. Jacobs het ook ’n bronsmedalje in die enkelspel-afdeling vir mans met ’n fisieke gestremdheid verwerf.
Jacobs speel al sedert 1982 rolbal. Voor dit was hy van 1976 tot 1980 ’n Vrystaatse veerpyltjiespeler.
Dit was vanjaar die eerste keer dat hy aan die wêreldkampioenskapskompetisie deelgeneem het, en dit is vir hom ’n dubbele geluk dat hy boonop as wenner daar kon wegstap.
Hy het in 2018, 2021, 2022, laas jaar én vanjaar die Suid-Afrikaanse veterane-meesterskompetisie gewen en ding al sedert 2013 mee in die Suid-Afrikaanse kampioenskapstoernooi, waar hy al agt medaljes gewen het.
Jacobs sê hy is baie lief vir die spel en die mense wat altyd vir lekker samesyn sorg.
“Die ding van rolbal is dat ’n mens nederig moet wees en bly. Jy kan nie toelaat dat die spel na jou kop toe gaan nie. Dit sal elke keer jou prestasie belemmer,” sê hy.
Albei die spelers is lede van die Orangia-rolbalklub in Bloemfontein.





