Terwyl die gebarste pyp Sondag rondom middernag in Pellissier nog ’n paar dae van droë krane vir inwoners van die suide van Bloemfontein ingelui het, is een gesin se huis deur ’n stroom water uit die pyp oorspoel.
Corné en Nico Killian was verstom toe water by hul huis begin instroom.
“Ons kon eers nie verstaan waar die massa water vandaan kom nie,” sê Corné.
Al was die motorhuisdeure en voordeur toe, het die water in die huis bly instroom. Binne die huis het die water ongeveer 10 cm hoog gestaan.
Hul seun Ebert en sy vriendin, Ane Els van Johannesburg, wat ook daar gekuier het, het die twee Yorkshire-terriërs op die bed getel om te keer dat hulle verdrink.
Corné sê die water het sowat drie uur lank oor die parkie voor hul huis en deur hul huis by Piekaniniestraat 6 in Pellissier gevloei en in die tuin agter die muur omgestoot.
“Ons het tot 04:00 probeer om die water met besems uit die huis te vee.”
Hulle het die afgelope paar dae by familie gebly en Dinsdag vroeg kontak gemaak met die Vaal Sentraal Waterraad (die nuwe naam vir Bloemwater).
Dr. Limakatso Moorosi, uitvoerende hoof, het hulle gekontak.
Nico sê hy is baie beïndruk met die flink reaksie van die waterraad, wat kort daarna ’n veiligheid- en ’n onderhoudspan na die huis gestuur het om ondersoek in te stel.
Dit was die tweede pyp wat in een week gebars het in die waterraad se netwerk wat vanaf Pellissier oor die suide van die stad heen water versprei.
Rossouw Botes, DA-wyksraadslid in Pellissier, sê die eerste pyp het op Maandag 9 Oktober gebars en daar is met herstelwerk begin.
Die werk is beïnvloed deur ’n veldbrand wat Eskom-kragmaste naby die Welbedacht-watersuiweringsaanleg beskadig het en tot kragonderbrekings gelei het.
Die pyp het Sondag ’n tweede keer omstreeks middernag naby Bitterbessiebosstraat gebars en dit is hierdie water wat deur die veld en deur die Killians se huis gevloei het.
Watertoevoer is daarna by die casino afgesny om met herstelwerk te begin.
Botes het Dinsdagoggend gesê hy het ’n boodskap van die waterraad gekry dat die herstelwerk gedoen is en water nou in die Brandkop-reservoir loop.
“Dit behoort deur die loop van die dag weer by huise uit te kom,” het hy Dinsdag gesê.
Die Vaal Sentraal Waterraad werk sedert Maandag aan die Welbedacht-pypleiding, wat water aan die Brandkop-reservoir voorsien en ’n groot deel van die suide van water voorsien. Die waterraad het laat weet dat daar watertenkwaens en opgaartenks op verskeie plekke beskikbaar is, maar Botes sê dit het nie gebeur nie
Lindiwe Mnguni, bestuurder van kommunikasie en bemarking van die Vaal Sentraal Waterraad, sê die bestuur is in verbinding met die Killians.
“Sodra die ondersoek voltooi is, sal daar met die familie gepraat word oor die pad vorentoe.” Mnguni sê die pyp wat gebreek het, is meer as 50 jaar oud en dit is broos en bars maklik.
Botes beywer hom reeds lankal vir ’n tweede reservoir vir Pellissier.
“Dit sal keer dat Pellissier elke keer sonder water sit as daar waterprobleme is.”
Hy sê die suidelike dele van onder meer Pellissier, Genl. de Wet, Fleurdal, Fichardtpark, Universitas, Kwaggafontein, Lourierpark en Kelly’s View het sedert 6 September al 13 uit 35 dae nie water gehad nie.





