Kiesers in vier wyke in Bloemfontein kan die naweek registreer

Rossouw Botes, nou proporsionele DA-raadslid.


Kiesers in wyke 18, 20, 22 en 25 van die Mangaung-metro kan komende naweek op 27 en 28 Julie tussen 08:00 en 17:00 seker maak dat hule inligting reg is vir die plaaslike tussen­verkiesing wat op 11 September plaasvind.

Drie van die wyksraads­poste is vakant ná die nasionale en provinsiale verkiesing in Mei waarná Dulandi Leech van wyk 22, Werner Pretorius van wyk 20 en Dave Mc Kay van wyk 18 lede van die Vrystaatse Wetgewer geword het.

Nog ’n wyksraadspos is vakant noudat Rossouw Botes ’n proporsionele DA-raadslid is.

Paul Kotzé is die DA se kandidaat vir wyk 25, wat Pellissier en ’n deel van Fichardtpark insluit.

Die DA se kandidaat vir wyk 20, wat Heuwelsig, ’n deel van Dan Pienaar, Brandwag en ’n deel van Westdene insluit, is Corize van Rensburg.

In wyk 18, wat Fleurdal, Fauna, Lourierpark, Kwaggafontein, Kelly’s View en Ferreira insluit, is Greg van Noord deur die DA as kandidaat aangewys.

Die DA se kandidaat vir wyk 22, wat Langenhovenpark en Bainsvlei insluit, is Jan-Hendrik Cronje.

In wyk 18 is daar registrasiepunte by die Laerskool Fauna, die Laerskool Phutanang in Ferreira, die Eersteling-plaasskool, die Bainsvlei- munisipale kliniek, die Bloemfontein-skool vir Outisme en die Laerskool Willows.

In wyk 20 is daar registrasiepunte by die St Michael’s School for Girls, die Hoërskool Sentraal, die NG kerk Heuwelkruin, ’n tent in Pentagonpark, ’n tent in die Heuwlsig-park en by die NG kerk Bloemheuwel.

In wyk 22 is daar registrasiepunte by die Nederduits Hervormde Kerk, Bainsvlei-biblioteek, ’n tent in Chris Barnardstraat, ’n tent in Anna M. Louw-straat en by die NG kerk Langenhovenpark.

In wyk 25 is daar registrasiepunte vir die naweek is by die Laerskool Fichardtpark, die Laerskool Pres. Brand, ’n tent in Jan Enslinweg, ’n tent in Pellissierrylaan, ’n tent by Bobbiespark, ’n tent in Jan Fiskaalrylaan en een by die Hoërskool Rosenhof.

’n Volledige lys van al die kandidate sal gepubliseer word sodra dit beskikbaar is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article