Behoeftiges in die Vrystaat en Noord-Kaap gaan voordeel trek uit ’n halfmiljoen rand wat vanjaar uit Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds aan liefdadigheidsorganisasies beskikbaar gestel word.
Die geld is tussen 1 Januarie en 31 Desember verlede jaar ingesamel.
Die fonds is uitsluitlik afhanklik van die publiek se geldelike skenkings en lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die uitgawes van 30 liefdadigheidsorganisasies in die streek. Slegs geregistreerde organisasies kan vir die fonds aansoek doen en moet ’n lys van die behoeftes by die organisasie verskaf.
Organisasies soos Choc Huis, Genade in Aksie, Salileni-dagsorgsentrum vir volwassenes met gestremdhede in Bethlehem, Noord-Vrystaat Versorgers wat tuisversorging van palliatiewe pasiënte in Kroonstad doen, die Vereniging vir Mense met Gestremdhede in die Vrystaat, Suid-Vrystaat Geestesgesondheid en Inspirare Academy vir kinders met outisme is sommige van die ontvangers.
Die Omega-sentrum vir bejaardes en Sannie se Kombuis kry ook skenkings van nie-bederfbare kos wat uit die fonds gekoop is.
Vanjaar is behoeftiges met dringende nood ook uit die fonds ondersteun. Dit sluit onder meer in die begrafnis van ’n verstandelik gestremde man met geen familie wat ’n gemeentelid van ’n Bloemfonteinse kerk was.
Die halfmiljoen is moontlik gemaak deur ’n lang lys skenkers wat heelwat NG kerke in die Vrystaat insluit en ’n groot kontant-skenking van ’n anonieme skenker.
Twee veilings wat altesaam R24 905,25 opgelewer het, is ook deur vrywilligers ten bate van die Kersfonds aangebied.
Ds. Jannie Smith, voorsitter van die Kersfondskomitee, het sy opregte dank uitgespreek teenoor almal wat die afgelope jaar geld geskenk het.
Skenkings aan die fonds vir volgende jaar se uitbetaling, kan gemaak word by die volgende Nedbank-rekening: Volksblad-Kersfonds, rek. 102-891-9980; takkode 117-134. Stuur inbetalingstrokies na annemarie@engo.co.za.





