Die Wesleyaanse kerk in Bloemfontein.Foto: Argief


Die geskiedkundige klein Wesleyaanse kerk in Waaihoek (nou Batho) in Bloemfontein, waar die ANC in 1912 as die South African Native National Congress gestig is, is onder die benoemings van die regering om as wêrelderfenisterrein erken te word.

Suid-Afrika het twee benoemings aan Unesco, die Verenigde Nasies (VN) se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie, gerig, wat onderskeidelik uit drie en tien terreine bestaan. Unesco se wêrelderfeniskomitee vergader van 21 tot 31 Julie in Nieu-Deli, Indië.

Die twee benoemings is die ontstaan van moderne menslike gedrag: die Pleistoseen-tydperk; en menseregte, bevryding en versoening: Nelson Mandela-erfenisterreine.

Die terreine in die eerste benoeming is die Diepkloof-rotsskuiling naby Elandsbaai, die Pinnacle Point-grot in Mosselbaai (albei in die Wes-Kaap) en die Sibhudu-grot in KwaDukuza (KwaZulu-Natal).

Die tweede benoeming sluit in die Uniegebou, Constitution Hill, Walter Sisulu-plein, Liliesleaf en verskeie terreine wat die menseslagting by Sharpeville in 1960 en die Soweto-opstand van 1976 gedenk (almal Gauteng), asook Ohlange (KwaZulu-Natal), die Waaihoek Wesleyaanse kerk in Bloemfontein (Vrystaat), The Great Place by Mqhekezweni en die Fort-Hare-Universiteit (UFH) (albei Oos-Kaap).

Suid-Afrika spog met tien wêrelderfenisterreine.

“Indien hierdie benoeming slaag, sal ons ’n 11de wêrelderfenisterrein hê,” sê dr. Thabo Manetsi, uitvoerende hoof van Suid-Afrika se Nasionale Erfenisraad.

Die Wesleyaanse kerk was die plek waar swart sakelui, kerklui, joernaliste, prokureurs en onderwysers in 1912 bymekaargekom het om die South African Native National Congress te stig.

Die naam is in 1923 na die African National Congress (ANC) verander.

Die kerkgebou in Fortstraat huisves tans die Wesleyaanse kerkmuseum.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article