Dié week gaan ‘n hittegolf inwoners oor ‘n groot deel van die sentrale binneland behoorlik laat sweet.
Hoë dag- en nagtemperature word tot Donderdag 29 Januarie in die Oos-Kaap voorspel, terwyl inwoners van die sentrale dele van die Noord-Kaap, die sentrale en suidelike dele van die Vrystaat, asook die suidwestelike deel van die Noordwes kan verwag om nog tot minstens Vrydag en selfs oor die naweek behoorlik warm te kry.
Dié hittegolftoestande sal veroorsaak dat temperature die gemiddelde seisoenale temperature oorskry.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ook waarskuwings van donderstorms oor verskeie provinsies uitgereik, met oorstromings wat plek-plek verwag word. ‘n Hoë brandrisiko bestaan in die droë dele van die land weens die kombinasie van droë lug met sterk winde en hoë temperature.
Vir Maandag, Dinsdag en Woensdag word geen reën vir die noordelike dele van die land – wat nog van vloedskade herstel, asook die Wes-Kaap, kusgebied van die Noord-Kaap en die grootste deel van die Noord-Kaapse binneland voorspel nie.
Geïsoleerde donderbuie word egter oor ‘n groot deel van die binneland – vanaf die Kgalagadi-oorgenspark, Bloemfontein, Graaff-Reinet, Oos-Londen, Richardsbaai, Mbombela, Thabazimbi tot Mahikeng en Vryburg – voorspel. Verspreide en meer hewige donderbuie word vir die gebied vanaf die suide van Johannesburg, Bethlehem, Lesotho en tot by Mthatha voorspel.
Maak só in warm weer
- Neem meer vloeistof as gewoonlik in, selfs al voel jy nie dors nie. Drink verkieslik water en vermy drinkgoed met kaffeïen en alkohol.
- Eet meer gereeld deur die dag, maar eet kleiner porsies.
- Berei koue geregte voor wat nie hitte nodig het om in gaargemaak te word nie.
- Hou jou blyplek koeler deur gordyne of blindings toe te hou om direkte sonlig weg te keer. Vroegoggende, wanneer die temperatuur nog laag is, maak vensters en deure oop om deur kruisventilasie die koeler lug deur die huis te sirkuleer. Maak dit egter toe sodra die buitetemperatuur begin styg.
- Dra ligte en lospassende klere, verkieslik van katoen.
- Plaas ‘n klam waslap of handdoekie oor jou nek, kop of onder jou arms.
- Indien jy buite moet gaan, dra ‘n hoed of selfs sambreel, en werk en beweeg sover moontlik in die skadu.
- Vermy stremmende aktiwiteite in die hitte van die dag.
- Moenie kinders of troeteldiere enigsins in ‘n voertuig laat nie. Indien jy met jou hond moet gaan stap, vermy teeroppervlaktes en sement wat die dier se kussings onderaan sy pote kan brand.
- Sien toe dat troeteldiere genoeg drinkwater het, en koelte om in te lê.
- Indien jou blyplek nie lugverkoelers of waaiers het nie, besoek ‘n winkelsentrum, biblioteek of ander openbare gebou waar dit koel is.
- Indien jy ‘n waaier het, hang ‘n klam lap oor die waaier – die lug is koeler weens die vog wat verdamp.
- Plante, veral bome en grootblaarplante kan help om ‘n koel hoekie te skep.
Weer perfek vir rosyne droog
Vanuit Upington skryf Len Fourie op sy Facebook-blad dat hulle teen volgende week truie sal moet begin dra wanneer die kwik vir ‘n slag onder 40oC daal.
Hierop skryf van sy volgelinge:
“Julle gaan ge-deepfried word”
“…net n sifdraad tussen julle en die hel dan…”
“Sjoe sterkte, hoop die mense onthou diere se waterbakke wat vol en in koelte moet wees, asook water vir die voëltjies, dis erg hoog!”
“Ja kyk die Noord-Kaap en veral Upington is nie vir sissies nie ek het 40 jaar in Prieska gebly sy temperatuur en Upington is dieselfde.”
“Ons het siësta gehou amper die hele dag gister hier in Noordwes. Vroeg tuin natgemaak en bome ekstra water gegee en die sprinkelstelsel ook laat loop. Dit duur ook voort hierdie week. Ek dink aan julle en los maar die trui.”
“Heerlike rosynemaak weer!”
“Dit was presies hierdie tyd, 1989 wat ek met my basiese opleiding by 8 SAI begin het. Mense het nie ‘n idee hoe warm dit in Upington is nie.”
Reisigersweersvoorspelling vir Dinsdag:
Pretoria:
Gedeeltelik bewolk met namiddag reënbuie en donderstorms.
Minimum/maksimum: 18/33
Johannesburg:
Gedeeltelik bewolk met namiddag reënbuie en donderstorms.
Minimum/maksimum: 16/32
Vereeniging:
Gedeeltelik bewolk met namiddag reënbuie en donderstorms.
Minimum/maksimum: 16/32
Mbombela:
Oggendmis en misreën word voorspel, andersins gedeeltelik bewolk.
Minimum/maksimum: 19/29
Polokwane:
Gedeeltelik bewolk.
Minimum/maksimum: 16/29
Mahikeng:
Mooiweer, met wolke in die namiddag en geïsoleerde reën- en donderbuie.
Minimum/maksimum: 18/34
Vryburg:
Mooiweer, met wolke in die namiddag en geïsoleerde reën- en donderbuie.
Minimum/maksimum: 18/36
Bloemfontein:
Mooiweer, gedeeltelik bewolk in die namiddag met geïsoleerde reën- en donderbuie.
Minimum/maksimum: 18/37
Kimberley:
Mooiweer, gedeeltelik bewolk in die namiddag met geïsoleerde reën- en donderbuie.
Minimum/maksimum: 21/37
Upington:
Mooiweer, gedeeltelik bewolk in die namiddag met geïsoleerde reën- en donderbuie.
Minimum/maksimum: 24/40
Kaapstad:
Gedeeltelik bewolk in die oggend, met ‘n matige suid- tot suidwestelike wind.
Minimum/maksimum: 17/28
George:
Gedeeltelik bewolk, met meer wolke na die aand se kant. ‘n Matige weste- tot suidweste wind word voorspel.
Minimum/maksimum: 18/25
Gqerberha:
Bewolk tot gedeeltelik bewolk in die namiddag, met geïsoleerde reën- en donderbuie.
Minimum/maksimum: 21/27





