’n Hele paar entoesiastiese en fikse Bloemfonteiners het vanjaar op 17 November die uitdagende Ironman 70.3-uitdaging in Mosselbaai aangedurf.
Sommige het die eerste keer die 1 900 m van Santos- na De Bakke-strand geswem; direk daarna 90 km fiets gery met die bergpas op; en daarna met moeë bene die 21,1 km-padwedloop deur die heuwelagtige Mosselbaai se strate voltooi.
Dit was baie warm, en sommige toeskouers het met hul tuinslang langs die pad gestaan om atlete nat te spuit en lafenis te bring teen die hitte van die middagson.
Lynette Fischer, veteraan-kampioen van Bloemfontein, sê die wedloop was “hard, maar lekker”.
“Ons was almal dankbaar om die wedloop suksesvol te voltooi,” sê Fischer.
“Ek voel so trots op my dogter Nicole wat die Ironman-wedloop ’n eerste keer aangedurf en voltooi het. Sy het baie goed geswem en eerste in haar ouderdomsgroep uit die see gekom.
“Die ondersteuning van die toeskouers gedurende die hardloop het ons almal gedra.
“Ek was gelukkig om tweede te kom en het ook gekwalifiseer om aan die Ironman 70.3-wêreldbyeenkoms vir 2025 in Marbella, Spanje, te gaan deelneem.”





