Bea Labuschagne (22) op haar fiets op pad Kaap toe.
Bea Labuschagne (22) op haar fiets op pad Kaap toe.

BLOEMFONTEIN – Elke trap is ‘n keuse. Wanneer jy kies om nie te trap nie, gaan jy nie by jou bestemming uitkom nie.

So gesels Bea Labuschagne (22), ‘n biokinetikus van Bloemfontein wat al die pad van Bloemfontein tot in Kaapstad fietsry om geld in te samel vir haar nie-winsgewende organisasie Prosper in Life with Christ.

Bea Labuschagne ry van Bloemfontein tot in Kaapstad om geld in te samel vir haar niewinsgewende organisasie Prosper in Life with Christ. FOTO’s: Verskaf

Bea het Sondag 22 Februarie om 07:15 uit Bloemfontein vertrek en ry elke dag tussen tussen 50 en 175km fiets en het reeds vyf skole langs die pad besoek waar sy haar boodskap van hoop en omgee met leerders deel.

Sy en haar klein ondersteuningspan het tot dusver ‘n voorspoedige reis gehad – al het reën en sterk wind haar tog soms bemoeilik.

Bea Labuschagne met haar Bidbeertjie.

Met haar projek Cycling with Christ wat deel vorm van Prosper in Life with Christ, skep sy bewustheid vir die organisasie en samel sy geld in om leerders wat dit nodig het te help met die koste van ekstra klasse en sportuitgawes. Met die fietstoer waar sy op haar fiets die 1 000km van Bloemfontein tot in Kaapstad aflê, het daar al wonderlike mense oor haar pad gekom. Soos die vrou wat by die brandstofstasie werk en na Bea toe gekom het.

“Hier is ietsie kleins, maar dit is uit die hart.” En toe gee sy vir Bea R100.

“Sjoe, dit maak ‘n mens dankbaar,” sê Bea oor almal wat haar ondersteun en haar op verskillende maniere help in haar reis tot in die Kaap. Haar pad het ook gekruis met ‘n groep fietsryers wat ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika fietsry met hul Beertjie-projek. Die teddietannies seën mense met die beste wat hulle het, naamlik gebed en ‘n gebreide bidbeertjie. Hulle het vir Bea en vir haar fiets elk ‘n Bidbeertjie gegee.

My boodskap gaan oor die keuses wat jy in die lewe maak en dat jy saam met die Here keuses moet maak.

“Daar is groot krag in klein keuses en elke keuse kan ‘n invloed hê op jou bestemming.” Bea gebruik telkens die praktiese voorbeeld van haar langste dag nóg van Hanover na Drie Susters waar sy 174km in een dag getrap het.

“Ek het ongeveer 35 000 trappe gemaak om vorentoe te gaan,” sê sy. “Ek het 35 000 klein keuses gemaak om nie op te gee nie. Ek het 35 000 keer gekies om aan te hou – al waai die wind en brand my bene. Die 174km is nie net ‘n afstand nie – dit is duisende oomblikke van besluit. En vandag het ek 35 000 keer besluit om aan te hou. Dit is die krag van keuses.”

Bea se die wind was soms baie sterk en dit het gevoel of sy nêrens heen gaan nie.

“Die lekkerste was om te sien hoe die hand van die Here oor ons journey rus. En natuurlik ‘n lekker lang afdraand ná ‘n taai bult. Dit is elke keer heerlik.”

As alles voorspoedig gaan, besoek Bea Vrydag Paarl Girls High voordat sy verder trap om Saterdag 7 Maart tot in Kaapstad te ry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article