Die tweede #Weesdieverskil-fees, aangebied deur die ATKV-tak Gemeenskapsteater, word op Saterdag 4 November by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangebied.
Hekke open om 09:00 en besoekers kan uitsien na ’n verskeidenheid aktiwiteite.
Daar sal ’n groot speelarea vir jonk en oud wees, wat aangebied word deur die Landsdiensgroep van die Vrytstaat, die Kwaggas, en Solidariteit.
Op die amfiteater word ’n kindertoneelstuk Dinosourusse kan nie lees nie om 10:00 aangebied.
’n Toneelstuk, spesiaal vir die geleentheid geskryf deur Maretha Maartens, Die Indringer, word om 11:30 in die amfiteater opgevoer.
Plaaslike toneelspelers is te sien in die stuk wat gebaseer is op die verhaal van die barmhartige Samaritaan.
’n Nuwe toevoeging tot die fees is ’n skattejag met ’n kontantprys van tot R2 500 op die spel. Koop ’n leidraadkaart teen R10, volg die leidrade, kry vyf plakkers by vyf bestemmings en gooi jou voltooide kaart in die inskrywingshouers.
As jy op die dag bloed skenk by die SANBS-bussie, kry jy ’n bonusplakker, wat die kontantprys van R2 000 sal opstoot met R500 as jy die gelukkige wenner is.
Daar is ook ander pryse op die spel. Die prysuitdeling word om 12:30 in die amfiteater gehou.
By die stalletjies gaan die Hoërskool Jim Fouché se trompoppies, wat onlangs as wêreldkampioene gekroon is, om 09:45 en weer om 11:00 optree.
Die Laerskool Willem Postma se ritmegroep tree om 11:05 op en die Tjokkies-ritmegroep om 11:10.
Om 11:15 kom EduPlus se perkussiegroep aan die beurt, met The Dance Connection wat om 11:20 optree.
Nostalgie – ’n reis deur Afrikaanse musiek word om 13:00 in die amfiteater aangebied. Die produksie is geskep deur Lourens Brink. Mense kan treffers soos “Kinders van die wind”, “Lisa se klavier”, “Karoonag” en vele meer verwag.
Die sangers word begelei deur ’n vierstuk-orkes bestaande uit plaaslike kunstenaars, onder leiding van die Jaco Bezuidenhout as musikale regisseur.
Daar sal ’n mark met kosstalletjies en ’n kunsmark wees met eetgoed by Santa Fé asook ’n speelarea vir die kinders.
Toegang tot die terrein kos R20 met skoolgaande kinders wat R10 betaal en voorskoolse kinders wie se toegang gratis is.
By elk van die produksies sal daar ná die tyd ’n geleentheid wees vir ’n vrywillige sagte kollekte ten bate van die Lettie Fouché-skool en die Vrystaat-Nasorgsentrum.




