Die sanger en liedjieskrywer Luna Paige se nuutste enkelsnit, “Die oral” is op Vrydag 6 Februarie uitgereik.
Sy vertrek binnekort op die landwye #DieReisegers-toer en sal hiermee ook by Bloemfontein inloer.
Die nuwe snit volg op die sukses van haar vorige somervrystelling, “Rustyd & herhaal”. Paige sê “Die oral” is ‘n roerende lofsang vir menslike verbintenis en dien as ‘n voorsmakie vir haar nuwe album, Die reisigers.
Die inspirasie vir “Die oral” het vorm aangeneem op ‘n stoep in Porto, Portugal, tydens haar reise in 2024, vertel Paige. Terwyl sy die universele taal van die liefde op ‘n afstand dopgehou het – van families wat op die kaai skater tot tieners wat op hawemure flankeer – is sy diep geraak deur die inherente menslike behoefte aan veiligheid en geborgenheid.
“Om ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land te wees, herinner jou net weer aan hoe eenders ons almal is en hoe afhanklik ons van mekaar is,” sê Paige.
“Ons verloor so maklik dit wat ons as mense bind uit die oog. Ek het die frase ‘everywhere people loving people everywhere’ neergepen, en met my terugkeer na Suid-Afrika het ‘Die oral’ lewe gekry.”
Paige het weer met André Scheepers, vervaardiger en musikant, kragte saamgesnoer om die snit op die lug te kry. Die duo het die oorspronklike vertoningsweergawe verfyn deur met vokale melodieë en instrumentele oorwurms te eksperimenteer.
Die snit spog met die kenmerkende kitaarwerk van Henry Steel, wat die lied se klank help vorm het. Hy het ook sy hand tot baskitaar gewend, terwyl Paige ‘n stemstyl wat effens buite haar tradisionele gemaksone lê, verken het.
Paige begin op 19 Februarie toer en sal op Saterdag 28 Feruarie in die Aasvoëlklub in Bloemfontein optree.
Kaartjies kos R150 by die deur en R100 met vroeë bespreking deur die WhatsApp-nommer 084 559 8991.
Paige se toer gaan hierna voort, en sy tree in April op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op.
■ Een leser van BloemNuus kan twee kaartjies vir die #DieReisegers-vertoning op 28 Februarie in die Aasvoëlklub wen.
Besoek BloemNuus se Facebookblad om in te skryf om die kans te staan om te wen.





