Die sinkgat wat vroeg verlede jaar op die C-rugbyveld en krieketveld van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein ontstaan het, waar ’n ondergrondse stormwaterkanaal ingeval het, is steeds nie ten volle herstel nie en dit hou ’n gevaar van vloede in wanneer die reënseisoen aanbreek.
IR van der Merwe, lid van die Hoërskool Sentraal se uitvoerende dagbestuur van die beheerliggaam, sê die aanvanklike kommunikasie wat hulle van die Mangaung-metro ontvang het, is dat die herstelwerk net sowat drie maande sou duur. Die skool het nou reeds drie briewe aan die metro geskryf om te vra wanneer die werk hier voltooi gaan word.
Die kontrakteur se kontrak het volgens ingeligtes nou ’n tweede keer verval, en ’n proses moet nou eers weer gevolg word om sy kontrak te hernu sodat die laaste deel van die werk gedoen kan word.
Werner Pretorius, nou lid van die provinsiale wetgewer en met die ontstaan van die sinkgat DA-wyksraadslid van wyk 20, waarin die skool is, sê hy het op dieselfde dag waarop die sinkgat ontstaan het, dit by die metro en ook by die stadsbestuurder en die destydse waarnemende departementshoof van infrastruktuur aangemeld.
Op dieselfde dag nog het ’n inspekteur van die metro se gesondheidsafdeling die sinkgat besoek en is dit omhein.
Met swaar reën ’n maand later het stormwater op Sentraal se sportvelde opgedam, asook in paaie om Prellerplein, en wat het selfs in die parkeerterrein van die winkelsentrum gevloei. Ná die reën het die sinkgat vergroot.
Kort daarna het Raubex ’n gedeelte van die veld om die sinkgat afgesper, en Pretorius het ’n skrywe aan die premier gerig om in te gryp sodat die sinkgat en die oorsaak daarvan herstel word.
Daar is vasgestel dat die bokant van die stormwaterkanaal ingeval het, en ’n kontrakteur is uiteindelik in Mei 2023 aangestel om die kanaal te herstel. Teen September verlede jaar was die werk steeds aan die gang. Werk is gestaak, al was ’n groot deel van die grondwerk gedoen en het bouwerk aan ’n nuwe stormwaterkanaal begin. Werk is later voortgesit, maar het nou ’n tweede keer tot stilstand gekom.
Pretorius het op 10 September ’n skriftelike navraag aan die LUR vir samewerkende regering gerig om uit te vind waarom die kontrakteur nie meer werk nie en wat die koste van die herstelwerk tot op datum is.
Van der Merwe sê volgens ’n ingenieur waarmee hy gepraat het, is die projekwaarde sowat R6 miljoen, waarvan glo nog net R1 miljoen betaal is.
Pretorius sê hulle is baie bekommerd oor die komende reënseisoen en skade wat by huise en winkelsentrums aangerig kan word as die stormwaterkanaal teen daardie tyd nog nie behoorlik werk nie. Hy sê water vloei hoër op hoog deur die oop stormwaterkanaal voordat dit onder die grond in dié kanaal vloei. Totdat die werk aan die kanaal hier voltooi is, is daar groot risiko’s wat vloede betref.
Corize van Rensburg, die nuutverkose wyksraadslid van wyk 20, sê benewens die kommer oor die stormwater, is die kanaal wat oop lê op die skoolterrein ’n veiligheidsrisiko.
Sy sê daar was boonop al klagtes van inwoners van inbrake by huise wat aan die skool grens, en verdagtes wat oor die skoolterrein in die rigting van die bouwerk wegvlug en in die kanaal verdwyn.
Sy het op 3 Oktober vrae aan die stadsbestuurder gevra oor wanneer kontrakteurs gaan voortgaan om die bouwerk te voltooi en wat die nuwe datum is waarop die projek voltooi gaan word.
Van Rensburg wou ook weet wat die metro se plan is om die stad se stormwater-infrastruktuur te verbeter sodat soortgelyke gate nie op ander plekke ontstaan nie.





