Op die bekendstelling van die nuwe Bybel-monument op Doornkloof is van links ds. Pierre du Plooy (Bybelgenootskap van Suid-Afrika), Willie Engelbrecht (Vrystaatse gebiedsleier) en dr. Karin Stoffberg (hoofleier van Die Voortrekkers). Foto: Verskaf


’n Gedenkteken om 90 jaar van die Bybel in Afrikaans te vier, is Sondag op Die Voortrekkers se Vrystaatse plaas, Doornkloof, onthul.

Die geleentheid is deur ds. Pierre du Plooy van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en dr. Karin Stoffberg, die nuwe hoofleier van Die Voortrekkers, bygewoon.

Die onthulling het plaasgevind tydens die jaarlikse laerskoolkampe wat sedert Saterdag op Doornkloof aangebied word.

Vanjaar het 630 Voortrekkers die kampe vir gr. 4-, gr. 5-, gr. 6- en gr. 7-leeringe op die Voortrekkerplaas bygewoon. Voortrekkers uit die Vrystaat en Noordwes het die kampe, wat tot Woensdag geduur het, bygewoon.

Willie Engelbrecht, Vrystaatse gebiedsleier, sê die Vrystaatse Voortrekkers het besluit om ’n monument op te rig ter viering van die Bybel se 90ste jaar in Afrikaans.

“Dit is gepas dat dit op Doornkloof opgerig word, want dit is die hart van die Vrystaatse Voortrekkers,” sê hy.

“Die Voortrekkers se eerste hoofleier, dr. N.J. van der Merwe, wat op Doornkloof begrawe is, het die voorstel in die Vrystaatse sinode van die NG kerk gedoen dat die Bybel in Afrikaans vertaal word. Hy was ook deel van die groep wat die eerste Afrikaanse Bybels in Kaapstad ontvang het.”

Engelbrecht sê die Vrystaatse Voortrekkers het met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika hande gevat om die 90 jaar op Doornkloof te gedenk.

“Die monument is opgerig met geld wat ’n skenker, asook die Vrystaatse Voortrekkers, bygedra het,” sê hy.

Die monument is deur Engelbrecht ontwerp en deur Stefan Liebenberg van Liebenberg-graniet in Bloemfontein vervaardig. Dit simboliseer ’n vers uit Psalm 119:105 wat bevestig dat die Bybel die lig vir die Christen se lewenspad is.

Elke Voortrekker op die onthulling­seremonie Sondag het ’n spesiale medalje van die Bybelgenootskap ontvang.

“Sover ons weet, is dit die enigste monument wat vanjaar ter viering van die gedenkjaar van die Bybel in Afrikaans opgerig is,” sê Engelbrecht.

“Die grondslag van Die Voortrekkers is God Drie-enig se openbaring aan ons deur die Bybel en die skepping.

“Dit is ook ’n waarom ons die spesiale gedenkjaar van die Bybel wou vier,” verduidelik hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article