Nóg ’n brand het vanoggend verwoestig gesaai in Langenhovenpark, Bloemfontein, toe ’n meenthuis in die Jason Park-kompleks in ’n huisbrand vernietig is.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-brandweer, sê die brand is om 08:36 by die brandweer aangemeld en hulle was binne 11 minute op die toneel. Hy sê ’n oupa en twee kleinkinders wat in die meenthuis op die eerste verdieping was toe die brand uitgebreek het en is deur bure uit die meenthuis gehelp.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein. sê nadat die voorval om ongeveer 08:40 op ’n plaaslike WhatsApp-groep aangemeld is, het AfriForum-brandweer in samewerking met die Mangaung-brandweer die brand binne 20 minute in bedwang gebring.
Privaat ambulansdienste was op die toneel was het hulle ondersoek en die man is vir behandeling geneem.
Van Zyl sê die meenthuis langsaan het rookskade opgedoen.
Volgens FireOps, wat saam met AfriForum-brandweer werk, was die binnekant van die meenthuis heeltemal in vlamme verswelg. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en word ondersoek.
Groenewald sê in ’n verklaring sedert AfriForum-brandweer se ontstaan begin Junie het dié brandweerdiens al 18 verskillende brande in Bloemfontein help blus, waaronder die onlangse brand by die Nasionale Distrikshospitaal in Bloemfontein.
“AfriForum-brandweer se vinnige reaksie, in samewerking met sleutelrolspelers en plaaslike buurtwagte, is ’n bewys dat die gemeenskap en verskeie entiteite kan handevat om ’n veiliger omgewing te skep,” sê hy
Van Zyl sê in nog ’n voorval in die vroeë oggendure was daar ’n brand waarin ’n lapa by ’n huis in Lutherstraat, Wilgehof, in ’n brand verwoes is. Hy sê die brand is om 05:31 aangemeld en die brandweer was binne agt minute op die toneel.
Hy sê slegs die grasdaklapa het gebrand en hulle kon keer dat die brand na die meenthuis versprei.
In nog ’n voorval Maandag 15 Julie het ’n grasdaklapa in Hospitaalpark afgebrand. Van Zyl sê die brandweer het om 15:11 die oproep van dié brand gekry en dit is geblus sonder dat die brand verder versprei het.



