Die agtste Mokala-boskonsert, met Pietman Geldenhuys as gaskunstenaar, word van 21 tot 23 April in die Mokala- Nasionale Park aangebied.
Die park is sowat 80 km suid van Kimberley langs die N12.
Pietman Geldenhuys, musikant, liedjieskrywer, komediant, akteur en die afgelope paar jaar mede-aanbieder van die TV-program Oppiestoepis die gaskunstenaar vir die konsert.
Geldenhuys het al liedjies geskryf wat deur kunstenaars soos Bok van Blerk en Andries Vermeulen opgeneem is. Hy is ’n veelsydige kunstenaar wat al in teaterproduksies opgetree het, asook in TV-reekse en hy is al langer as 15 jaar in die vermaaklikheidsbedryf.
Die konsert word jaarliks deur die Sanparke-ereveldwagters se Vrystaatse streek aangebied om die park se inkomste aan te vul. Die konsert lewer elke jaar ’n groot bydrae tot bewaring in Mokala.
Pakkette, waarvan die pryse afhang van die verblyf wat gekies word, sluit in verblyf vir twee aande vir twee persone, ete die Vrydagaand en ’n buffet-ete en kaartjies vir die konsert Saterdagaand. Plek is nog beskikbaar in Dinokeng, een van die luukse boomhuise.
Daar is ook enkele plekke in chalets in Mosu en Lilydale asook kampplek by Haak-en-steek.
Bel Ina Leamy by 082-202-4202 of stuur ’n e-pos na ina@honoraryrangers.org om meer uit te vind of bywoning te bespreek.



