STORIE VAN HOOP: Boek se boodskap reik nou selfs oor die see

Jaco Jacobs met die boek Jy is ’n Wens.Foto: Verskaf


’n Gedagte oor ’n boek om kinders en volwassenes meer te leer oor aangenome kinders en hul gesinne gaan nou selfs deur kinders in Brasilië gelees word.

Die prenteboek wat Bloemfonteinse skrywer Jaco Jacobs geskryf het as geldinsamelingsprojek vir Engo,Jy is ’n Wens, is nou deur die Brasiliese uitgewersonderneming Viajante Do Tempo in Portugees vertaal en uitgegee.

“Dit is vir ons wonderlik,” sê Jaco oor die stap.

“Dit beteken dat daar nou selfs ’n oorsese inkomste­stroom vir Engo is omdat al die inkomste uit die boek vir dié organisasie gaan.”

Jy is ’n Wens en die Engelse weergaweYou are a Wish is in 2022 deur die uitgewers Pan Macmillian uitgegee. Jaco sê toe hy en De Wet Claassens, uitvoerende direkteur van Engo, gesels het oor die moontlikheid van so ’n boek, was sy enigste vereiste dat die boek sy plek moet vol staan as kommersiële boek.

“Dit moet dieselfde gehalte wees as ander prenteboeke,” sê Jaco.

“Ek wou met die boek wys hoe verskillende aanneem-gesinne lyk. Elkeen is uniek en spesiaal. Die boodskap van die boek is dat ’n aanneem-kind ouers se wens om ’n kind te hê, waar maak.”

Hy sê die boek is nie net vir kinders wat aangenome is of hul ouers nie, maar vir almal.

“Ek het besef hoe baie mense ek ken wat aanneem-gesinne is. In skole kry kinders daagliks te doen met aangenome kinders. Met die boek wil ek wys dat aanneming normaal is. Daardie kinders speel, lag en huil ook. Daar is nie minder liefde in ’n huis net omdat die kinders aangenome is nie.”

Jaco sê hy kry goeie terug­voering oor die boek.

“Mense stuur vir my boodskappe wat sê dat hulle kinders vrae vra en meer wil weet oor aangenome kinders.”

  • Benewens hierdie projek kan lesers nou deelneem aan Engo se Projek van Hoop, waarin een gelukkige wenner in Desember ’n Renault Kwid Life ryker gaan wees.

Die Projek van Hoop word vanjaar die 12de keer deur Engo Vrystaat aangebied om geld in te samel vir dié liefdadigheids­instansie se afdelings wat die lewe van bykans 200 000 mense in die provinsie raak. Om ’n kans te staan om die Renault Kwid Life te wen, doen ’n skenking van R30 by enige Engo-kantoor of aanlyn op engo.co.za.

Elke maand word ’n gelukstrekking gehou en dan staan een skenker die kans om R1 000 te wen. Die projek duur tot 15 November en die trekking van die finaliste vind op 6 Desember plaas.

Hou BloemNuus dop vir meer oor die Projek van Hoop en die Stories van Hoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article