Annatjie Engelbrecht, Anri Lottering en Lauretha Vienings van McIntyre van der Post brei reeds kliphard vir Bloemskou en BloemNuus se breiprojek. FOTO: Verskaf

Beplanning vir die 2026 Bloemskou is reeds volstoom aan die gang. Volgende jaar se skou vind van 23 April tot 2 Mei plaas.

Die tema “Beach Party” beloof om ‘n somerpartytjie-atmosfeer na die Vrystaat te bring.

In 2026 is daar weer twee openbare vakansiedae wat ingesluit is in die datums. Dit is Maandag 27 April (Vryheidsdag) en Vrydag

1 Mei (Werkersdag) wat dit ideaal maak vir ‘n wegbreek saam met familie en vriende.

Ná die groot sukses van vanjaar se skou, met 5 759 vee-inskrywings in die landbou-afdeling en 106 706 besoekers oor die nege dae, bou Bloemskou voort op die voorreg om die enigste skou in Suid-Afrika te wees, wat vermaak, landboukampioenskappe en kommersiële aktiwiteite op só ‘n groot skaal kombineer.

Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê die voorbereidings is goed op dreef. Sy sê die landboukampioenskappe is vol bespreek. Die uitstallings is nou 80% vol bespreek en ook die kosstalletjies is vol bespreek.

Leerprodukte, juweliersware en speelgoed is vol. Sy sê mense wat daarin belangstel om in 2026 deel van Bloemskou te wees, veral vir uitstallings soos tegnologie-, buitelug-, huisware-, meubels-, klere- en leefstylprodukte, moet gou spring.

Aansoeke vir die gewilde “Gift Shop”, waar Bloemskou namens uitstallers verkoop, sluit reeds op 1 Desember.

“Bloemskou dien as ‘n samekoms waar sake-lui, boere en besoekers jaarliks bymekaar kom om sake te doen en sosiaal te verkeer. Die skou bied ‘n eenstopbestemming vir vermaak, kuier, koop en ontspanning – ‘n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse kalender.”

Daar is groot belangstelling vir Bloemskou en BloemNuus se jaarlikse breiprojek. Almal kan deelneem en ‘n serp brei wat ná Bloemskou op 2 Mei tot ‘n einde gekom het, uitgedeel gaan word aan minderbevoorregtes. Die serpe wat as deel van die projek ontvang word, gaan ook tydens Bloemskou uitgestal word.

Vir meer inligting besoek bloemshow.co.za of skakel 051 448 9894.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article