Anri Rautenbach (19) van die Hoërskool Jim Fouché het op die Afrika-jeugspele van 11 tot 13 Desember in Luanda, Angola, ‘n goue medalje in hoogspring verdien.
Sy is lid van die Suid-Afrikaanse span.
Rautenbach het op 1,75m gespring – 5cm hoër as haar naaste teenstander van Namibië, Alexandra Scheepers.
Sy het vroeër in die seisoen op Wildeklawer se Grey-Oranje-byeenkoms haar naam ‘n tweede jaar agtereenvolgens in die rekordboeke geskryf.
Verlede jaar het sy die byeenkomsrekord vir o.15-meisies in hoogspring na 1,68m verbeter; vanjaar het sy die rekord van 2009 in die o.16-afdeling verpletter met ‘n persoonlike beste wenhoogte van 1,71m.
Op die G4GA-junior, -jeug en -senior-springkampioenskapsbyeenkoms, wat op 25 Oktober aangebied is, het Rautenbach ‘n eerste plek vir o.17-meisies behaal – dié keer met ‘n hoogte van 1,72m.
Met haar eerste sprong op die byeenkoms in Luanda, Angola op Vrydag 12 Desember het sy haar beste hoogte tot nog toe behaal en daarmee goud op die spele behaal.





