Jannine Bester met die bordspeletjie Speel vir Liefde en die kinderboek wat sy geskryf het oor egskeidings.Foto: Lientjie Mentz


’n Berader van Bloemfontein het ’n slim spel uitgedink wat paartjies kan help om mekaar beter te leer ken en kommunikasie in die huwelik te bevorder.

Jannine Bester wat in 2016 haar honneursgraad in berading behaal het, sê sy het gevind paartjies praat nie met mekaar nie. Speel vir Liefde is daarop gemik om paartjies aan te spoor om op ’n dieper vlak te kommunikeer of sommer net saam pret te hê.

“Kommunikasie is nie net ’n uitdaging vir jong paartjies nie, maar ook vir paartjies wat jare lank bymekaar is,” sê sy.

“Dit dwing paartjies om met mekaar te praat en saam te dink oor dinge wat vir hulle belangrik is.”

Dit is ’n bordspeletjie met kaartjies wat uit sewe kategorieë bestaan. Dit dek uitdagings, behoeftes, humor, kommunikasie, komplimente, liefde-tale, romanse en daar is ’n bonus-kategorie. Janine sê die speletjie het so goed gedoen, dat sy nou ook ’n tweede stel kaartjies gemaak het waarmee paartjies wat reeds die speletjie aangeskaf het, kan speel.

“Die speletjie leer paartjies nie net om mekaar beter te leer ken nie, dit bevorder ook selfkennis. Dit dwing paartjies om te dink oor hulself en hul verhouding en om te kommunikeer sonder dat dit konflik uitlok.”

Sy sê dit is belangrik dat elke vraag beantwoord word.

  • “As dit nodig is, kan julle die speletjie stop en eers ’n rukkie oor ’n spesifieke vraag gaan dink en later verder speel.” Jannine is ook die skrywer van ’n boek vir kinders oor egskeiding genaamd Egskeiding – Verstaan jou kind se hart deur Mila se oë.

Sy het die boek geskryf as ’n hulpmiddel om kommunikasie tussen ouer en kind wat egskeiding moet probeer verstaan, aan te moedig en te versterk. Een leser staan die kans om die bordspeletjie Speel vir Liefde te wen. Besoek BloemNuus se Facebook-blad om jou in te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article