Max du Preez, redakteur van Vrye Weekblad, Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, en Ruda Landman gesels gister by die ATKV-Boeke-oase op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein.

Mlungisi Louw

Lieflike somerweer begroet die Vrystaat Kunstefees wat Sondag (02/10) in Bloemfontein begin het en tot Saterdag duur. Die kunstemark het Dinsdag geopen.

Dit is vanjaar die 22ste keer dat die Vrystaat Kunstefees aangebied word en die eerste keer dat die fees, op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV), in die somer plaasvind.

Corneli van den Berg, fees­direkteur, sê sy is baie opgewonde oor hierdie fees.

“Almal is genooi.”

Daar is ook vroeër vanjaar ’n minifees gehou, met enkele produksies.

Die feesmark, wat allerlei eetgoed, produkte en kunswerke aanbied, word op die terrein om die Eksamensentrum en die George du Toit-gebou aangebied, terwyl die feesprogram begin het met ’n wavrag boekbesprekings, kunsuitstallings en teaterstukke.

Taalgenoot, die ATKV se tydskrif wat deesdae ook op Netwerk24 beskikbaar is, bied die eerste keer ’n uitstalling van sy voorblaaie deur die fotograaf André Badenhorst aan.

Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot, sê elke voorblad is die eindproduk van ’n kreatiewe dinkskrum waartydens intense navorsing gedoen word.

Afdrukke van die voorblaaie, waarop bekendes soos Neil Sandilands en Elzabé Zietsman pronk, is te koop en kan geraam word.

Dié uitstalling is by die ATKV-Boeke-oase te sien, waar daar ook die hele week boek­besprekings gehou word en waar skrywers hul boeke sal onderteken en die boeke gekoop kan word.

Maritsa Barlow, organiseerder van die Literatuurfees, sê van die hoogtepunte is Ruda Landman wat ’n paar boekgesprekke gaan lei, en skrywers soos Daniel Hugo en Zirk van den Berg wat oor hul boeke gesels. Jaco Jacobs sal die jongspan met gratis voorleessessies vermaak.

Die feesprogram is by talle plekke op die kampus en in die stad te koop.

De Villiers Brink, voorsitter van die Vrystaat Kunstefees, sê hy is trots op die kunstefees se span.

“Julle het die Covid-storm oorleef en nou kan die fees weer van krag tot krag gaan.”

Van die hoogtepunte op vandag (06/10) se program, sluit in die boek van Rudie van Rensburg verwerk in ’n verhoogproduksie, Hans steek die Rubicon oor, om 09:30 en 17:00 in die Wynand Mouton; Ruda-om-11: Moord – op soek na die hoekom om 11:00 in die ATKV-Boeke-oase (hoofsaal); Deetlefs-wynproe met ’n Kinkel in die kabel om 16:00 in die eksamenlokaal; en ’n vertoning van Dan Patlantsky in die Creative Kilowatt Kopanong Ouditorium om 20:00.

  • Nog ’n berig op bl. 2.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article