Die tennisspanne van die Hoër en Laer Meisieskool Oranje het albei die hoogste sport bereik in die nasionale Rising Star-toernooi wat Sondag (06/11) in Pretoria beslis is.
Dit was die eindronde van die kompetisie, waarvan uitdunrondes eers in die onderskeie provinsies gespeel is.
Die laerskool se span het die afdeling vir meisies in die o.13-toernooi gewen.
Hul afrigter, MC Olivier, sê dit is ’n groot prestasie, veral omdat al die spelers eintlik nog o.12 en o.11 is.
Die meisies het die span van die Laerskool Mooirivier in die eindronde geklop. Die lede van die span was Mandie Claassens, Lika Claassens, Inge Ferreira en Yana Olivier.
Die hoërskool se o.16A-span is ’n tweede keer agtereenvolgens die land se beste span. Mia en Nina Schimper, Ansoné Theron en Donna le Roux het as span die toernooi oorheers en slegs een van die 11 wedstryde verloor.
’n Kragmeting het uit drie wedstryde (twee enkelspelwedstryde en ’n dubbelspelwedstryd) bestaan.
Die kampioen het oorwinnings behaal oor die Tshwane-ontwikkelingspan, met 3 – 0; Hoërskool Nylstroom, met 3 – 0; Curro Hillcrest in die halfeindstryd, met 2 – 1; en Bloemhof in die eindstryd, met 2 – 0.
Donna en Ansoné was in 2020 lede van die Laer Meisieskool Oranje se span wat daardie jaar Rising Star se o.13-toernooi gewen het.
Die verowering van die nasionale titel het die kroon gespan op ’n besonderse jaar vir Oranje se tennis.
Die o.16-span het ook die Gerrie Berner- én die Amanda Coetzer-toernooi gewen sonder om ’n wedstryd te verloor. Dit was die eerste keer sedert 2015 dat Oranje dié twee grotes op die skoolkalender in dieselfde jaar kon wen.
Die eerste span was vanjaar in 18 kragmetings uit 20 aan die wenkant.





