Met kospryse wat by die dag duurder word en gesinne wat dikwels voel hulle moet iewers alternatiewe oorweeg om aan die einde van die maand die kosbegroting te laat klop, is daar planne wat gemaak kan word.
Van die proteïene wat oorweeg kan word as jy inkopies doen, is eiers, boontjies en lensies wat propvol voedingswaarde is.
Eiers lewer heelwat meer voedingswaarde as ander plant-gebaseerde bronne van proteïen. Een eier kan tot soveel as 7 g proteïen bied, wat gelykstaande is aan 13% van die hoeveelheid proteïen wat die gemiddelde vrou daagliks benodig.
Eier bevat ook al nege aminosure wat nodig is vir die menslike dieet. Boonop is eiers ’n goeie bron van belangrike voedingstowwe soos vitamien B12.
Hier is ’n resep van die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging vir ’n blomkool-en-parmasaan-schnitzel met brosgebraaide eier.
Die resep is genoeg vir vier mense. Die voorbereidingstyd is net 15 minute en dit neem sowat 20 minute om te kook.
Jy benodig:
- 1 groot blomkoolkop van ongeveer 800 g
-
150 g gerasperde parmesaankaas
-
50 g meel
-
100 g gedroogte broodkrummels
-
5 ml gemengde kruiegeurmiddel
-
1 tot 2 eiers
-
knypie sout
-
titseltjie olyfolieBestanddele vir die gebraaide eier:
-
15 ml paprika
-
2 knoffelhuisies
-
1 rissie, fyngekap
-
15 ml botter
-
titseltjie olyfolie
-
4 eiers
Maak die schnitzel so:
Verhit die oond tot 200 °C.
Meng die eier en ’n knypie sout.
Meng nou die parmesaankaas, meel, broodkrummels en geurmiddel in ’n vlak bord.
Sny die blomkool van die basis tot die kroon om steaks van sowat 1,5 cm dik te kry.
Doop nou die blomkoolsteaks in die eiermengsel en doop dit in die parmesaanmengsel.
Plaas dit op ’n bakplaat wat met kleefwerende middel gespuit is en bak in die oond vir 15 tot 20 minute.
Maak só met die eiers:
Voeg die paprika, knoffel, rissie en botter in ’n pan en braai liggies. Braai nou die eier in olyfolie totdat dit bros is en verwyder die pan van die hitte.
Bedien die blomkoolsteaks met die gebraaide eier bo-op en bedruip dit met die knoffelbotter en geur met suurlemoenskyfies en pietersielie.





