Die Bloemfontein-menseredders het op 18 Februarie aan die Vaaldam-oopwater nasionale kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem.
Die weersomstandighede was koud en ellendig, maar Bloemfontein se menseredders het reën en wind trotseer en goeie uitslae behaal.
Met 11 menseredders wat meegeding het, het Bloemfontein die trofee vir beste juniors gewen – algeheel derde uit agt klubs.
Derick Kotze (14) van die Hoërskool Sentraal het vyf medaljes ontvang en die afdeling vir seuns o.15 gewen. Len-Douglas Mac Kay (18) het aan die o.19- en senior byeenkoms deelgeneem en altesaam tien medaljes verower. Hy is as wenner in die afdeling vir seuns o.19 aangewys en was algeheel tweede as senior deelnemer.
Kaeli Armour (16) van die Eunice High School het vyf medaljes gewen en was tweede in die o.17-afdeling. Liam Nieuwoudt (15) van Grey-kollege (sekondêr) het drie medaljes ontvang en was derde in die afdeling vir seuns o.16.
Dié atlete het ook medaljes ontvang: Cayla Visser (16, Sentraal, 4 medaljes), Kaylin Visser (16, Sentraal, 1 medalje), Kayla van Niekerk (14, Sentraal, 1 medalje) en Jana Swanepoel (12, Meisieskool Oranje, 1 medalje).
- Die volgende kompetisie is die Swembad en see- nasionale kampioenskapsbyeenkoms in Gqeberha, van 30 Maart tot 5 April.





