’n Gesloer met die opknapping van die tuin het die nuwe uitvoerende hoof van Pacofs laat besluit om self ’n kontrakteur te betaal om die tuine rondom die Sand du Plessis-teaterkompleks reg te ruk.
Adri van Veijeren, woordvoerder van Pacofs, sê Themba Dlamini het gesê hy sal doen wat nodig is om dinge by Pacofs te verbeter. Om dit te simboliseer, het Dlamini besluit om self te betaal om die tuine om die kompleks te laat opknap.
Hy het ook die 65 personneellede van Pacofs betrek, wat op Maandag 6 Maart gaan help om die tuine netjies te maak en kompos in die grond in te werk.
Van Veijeren sê Pacofs het baie klagtes van die publiek ontvang oor die toestand van die tuin en hulle moes die klagtes na die departement openbare werke, aan wie die kompleks behoort, verwys.
“Met hierdie projek neem Pacofs volle verantwoordelikheid vir die eiendom,” het Dlamini in ’n nuusverklaring gesê.
“Ek gaan nie wag vir prosesse om uiteindelik deurgevoer te word om geld te kry om vir dienste te betaal nie. Ek betaal nou met my eie geld.”
Bekende Bloemfonteinse botanis en tuinier Trewhella Pienaar (80) het vroeër die week begin om die plante en bome in die tuin te snoei.
’n Familielid van Pienaar, Louise Gottschalk, het Pacofs reeds verlede jaar Augustus gekontak en haar tuindienste aangebied nadat sy die kaartjiekantoor besoek het en gesien het hoe verwaarloos die ingang en tuin is. Sy het gesê sy is bereid om die tuine op te knap en selfs plante te skenk.
Gottschalk het verlede week ’n tuinwerker betaal om die tuine skoon te maak en werk saam met Pienaar aan ’n plan vir die opknapping van die tuine.
Van Veijeren sê daar gaan ook binnekort ’n nuwe veiligheidsheining om die kompleks opgerig word.
Dlamini sê die heining sal baie van hul probleme oplos. “Dit sal probleme vir ons en vir ons besoekers oplos deur die teater se terrein skoon en netjies te maak, en so te hou. Ons wil hê dat Pacofs bedrywig moet wees en ’n belangrike rol sal speel op die pad daarna om ’n wêreldwye betrokkene in die kunste te word,” sê hy.
’n Diensverskaffer is ook aangestel om die ingang na die André Huguenet-teater in Eerstelaan op te knap.
Van Veijeren sê wanneer die ingang opgeknap is, moet dit lyk soos ’n hotelvoorportaal en sal dit ook dien as kaartjiekantoor.
Kaartjies vir Pacofs se produksies word ook nou op webtickets.co.za verkoop, asook by Pick n Pay- en Boxer-winkels.
Pienaar, Gottschalk en Dlamini nooi inwoners van Bloemfontein om betrokke te raak in die tuinprojek sodat die Sand du Plessis-teaterkompleks weer soos in sy glorietyd sal lyk.
Mense wat met die projek wil help, kan Van Veijeren by 066-298-0438 bel.



