Die vrywilligers van Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA) lyk anders as dié van vroeër jare.
Volgens die bestuur van die VVA, wat personeel en vrywilligers van 83 dienspunte van oor die Vrystaat heen toegespreek het, is vrywilligers se tyd minder omdat baie van hulle werk.
Die organisasie het 650 vrywilligers. Onder die vrywilligers is daar talle professionele mense wat hul kundigheid deel en ’n waardevolle rol daarin speel om die organisasie strategies te ondersteun.
Dié vrywilligers help die 779 personeel wat by die verskillende dienspunte oor die provinsie heen werk.
Die VVA het agt vroeë-kinderontwikkelingsentrums en 476 kleuterskole. In die afgelope jaar het die VVA maatskaplike dienste aan 28 000 mense verskaf, 4 133 kinders is beskerm en 29 500 behoeftiges het armoede-verligting danksy die VVA-kantore ontvang. Die afgelope jaar is ook 500 ouer mense versorg.
Die VVA se drie direkteure naamlik Melanie Kramer (bejaardesorgdienste), Tharina Vermeulen (finansies) en Ria Malan (maatskaplike dienste) sê in hul gesamentlike jaarverslag die grootste uitdaging van die organisasie bly steeds geld.
Hulle sê die huidige model van staatsfinansiering se einde het aangebreek en hulle moet alternatiewe vorme van inkomste oorweeg. Die nood wat in 1908 gelei het tot die ontstaan van die organisasie, bestaan steeds vandag – dit is egter soveel groter.




