Twee mans het gister borgtog in die Bloemfonteinse landdroshof gekry waar hulle verskyn het op klagte van bedrog en korrupsie.
Jeanne Kellerman (51) se borgtog is op R3 000 toegestaan en Mohammed Cajee (37) se borgtog is op R10 000 toegestaan. Hulle verskyn weer op 23 Januarie 2024 in die hof.
Hul verskyning spruit uit ’n ondersoek deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad-ondersoeke (Valke) na die verkoop van 18 staatsvoertuie.
Cajee het na bewering die voertuie vir ’n bedrag van R1 163 758 op verskeie veilings by die staatsgarage gekoop. Hy moes ’n deposito van R150 000 betaal en daarna die volle bedrag vir die voertuie betaal voordat hy dit kon afhaal.
Kellerman, ’n senior administratiewe klerk by dié garage, het na bewering die voertuie aan Cajee oorhandig sonder dat die uitstaande bedrag vereffen is.
Daar word verder beweer dat Kellerman vals inligting aan die veiligheidsbeampte by die garage verskaf het sodat die voertuie aan Cajee oorhandig kon word.
Die saak is na die Valke se ernstige korrupsie-ondersoekspan in Bloemfontein vir verdere ondersoek verwys.
Hulle het gevind dat Kellnerman verder R10 000 ontvang het vir sy aandeel in die bedrog.
Die twee het hulle gister aan die Valke oorgegee waarop hulle aangekla is en in die hof verskyn het.
Hulle word aangekla van bedrog, korrupsie en die oortreding van die Openbare Finansiële Bestuurswet.




