Megan-Geoffrey Prins is die solis in die FSSO se laaste jubileum-konsert.Foto: Eikestadnuus


Die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar met agt konserte wat met uithaler-programme, wêreldgehalte-soliste en bekende dirigente spog.

Enkele van die musici wat in die orkes se eerste uitvoering in 1974 opgetree het, is steeds FSSO-lede, naamlik die altviolis Anna van Niekerk, die tjelliste Frederick Fourie en Tilla Hen­kins, en die violiste Richard Reid en Francois Henkins.

Die jubileumkonserte strek van Maart tot November.

Op 9 Maart om 19:30 kan liefhebbers van klassieke musiek uitsien na Music for All: A Triumphant Opening Night in die Odeion-ouditorium.

Die bekende Bloemfonteinse tjellis Anmari van der Westhuizen is die solis met Dvorák se Tjelloconcerto in B mineur, op. 104. Daniel Boico, artistieke direkteur van die FSSO, is die dirigent, en Sibelius se Simfonie nr. 2 is ook op die program.

’n Maand later op 13 April om 19:30 is Beethoven, Brahms and Bizet Brilliance te sien. Boico is weer op die podium in die Odeion. Die Stellenbosse pianis Luis Magalhaes voer Brahms se gedugte Klavierconcerto nr. 1 in D mineur, op. 15 uit. Beet­hoven se Egmont-ouverture en Bizet se Simfonie nr. 1 in C majeur voltooi die program.

Op 11 Mei om 19:30 is dit A Symphony of Rivers and Romance in die Odeion. Vincent de Kort van Nederland is die dirigent en Michal Buczkowski van Pole die violis in Saint-Saëns se Vioolconcerto nr. 3, op. 61 in B mineur. Smetana se immergewilde Moldau (Vltava) en Brahms se Simfonie nr. 4 in E mineur, op. 98 is die ander werke op die program.

Op 14 September is die Kanadese pianis Jean-Philippe Sylvestre in die Sand du Plessis-teater te sien. Hy voer Airat Ichmouratov se Klavierconcerto nr. 1 uit met die einste komponis wat die dirigeer­stokkie sal swaai. Ichmouratov is ’n Russies-Kanadese komponis, dirigent en klarinetsolis wat in ’n vorige Klarinet Extravaganza in Bloemfontein opgetree het. Die konsert word ingelui met Weber se Oberon-ouverture en afgesluit­ met Schumann se Simfonie nr. 4 in D mineur, op. 120.

Nog ’n vertoning in die Sand du Plessis-teater is A Musical Variety op 19 Oktober. Twee van die natuurlikste verhoogmusici beloof om van die konsert ’n wenner te maak – Richard Cock as dirigent en Charl du Plessis en sy trio as solis. Gehore kan enigiets van Bach tot Ellington verwag, en gemoedelikheid en ’n uitvoering op hoë vlak.

Op 2 November in die Sand du Plessis-teater is A Spectacular Choral Celebration te sien. Daniel Boico is terug vir die konsert met die UV-koor onder leiding van die dirigent Werner Stander en ander deel­nemers wat later bekend gemaak sal word.

A Grand Finale is op 16 November in die Sand du Plessis-teater. Megan-Geoffrey Prins, kla­vierdosent aan die Universiteit van Pretoria, sluit die FSSO-jubileumjaar af met Rachmaninoff se Klavierconcerto nr. 3 in D mineur, op. 30. Koehne se Elevator Music asook Tsjaikofski/Ellington se Neutkraker-verwerking is die ander nommers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article