Die Hoër Meisieskool Oranje voer In die helder donker op vanjaar se ATKV Reza de Wet-tienertoneelfees op. Dit is geskryf en word geregisseer deur Lee-Anne Mouton in gr. 12. Van links is Miana Fourie, Dominique du Plessis, Caitlin Erasmus, Cara Conradie, Miné Truter, Theresa-Louise Fourie en Lee-Anne.Foto: Verskaf


Vanjaar se ATKV Reza de Wet-tienertoneelfees, in sy 15de bestaansjaar, gaan vol hoogtepunte en ’n paar nuutjies wees.

Die fees vind van Saterdag 29 Junie tot Maandag in die skoolsaal van die Hoër Meisieskool Oranje plaas.

Vir die eerste keer is ’n toneelstuk – die Hoërskool Fichardtpark se Gekookte kondensmelk – se teks vir dié fees deur ChatGPT geskryf. Dié eksperimentele toneelstuk ondersoek die invloed van kunsmatige intelligensie (KI) op kunstenaars.

Ook vir die eerste keer gaan twee seunskole, Selborne College en die Afrikaanse Hoër Seunskool, op die planke wees. Selborne, ’n Engelse skool, neem in Afrikaans deel.

Daar is 13 deelnemende skole uit tien dorpe of stede en altesaam 196 spelers, wat 2024 se fees die grootste tot nog toe maak. Fichardtpark is saam met die Hoërskool Jim Fouché en Oranje die plaaslike skole op die planke.

Al die produksies is nuutgeskrewe tekste. Die beste produksie, ensemble-spel, akteur en nuutgeskrewe teks word vereer.

Een van die beoordelaars, Schoemé Steenkamp, het in 2009 op dié fees gespeel.

Die fees dra die naam van De Wet (1952-2012), ’n oudleerling van Oranje. Sy was een van Suid-Afrika se belangrikste en invloedrykste toneelskrywers.

  • Kaartjies word teen R150 per dag (vir ses opvoerings) by die deur verkoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article